God se Woord in vandag se woorde

Elke outjie het ’n foutjie


Elke outjie het ’n foutjie. Party van ons het ’n hele paar en om dit in ’n verkleiningsvorm te gebruik, doen redelik afbreek aan die waarheid. Ja, die meeste van ons sukkel met ’n stuk sonde wat te gereeld by ons lewe se voordeur opdaag. Ons weet ons moet dit nie inlaat nie, maar helaas, as ons weer sien, sit ons lekker saam en kuier. Net om die volgende oggend weer op te staan met ’n groot skuldgevoel.

Dan belowe ons hand en mond dat ons nooit weer oor dié tou sal trap nie. Maar ai, as ons ons weer kom kry…

Die probleem is dat ons ’n sterk boodskap uitstuur as ons volhou om keer op keer in dieselfde gat te trap: Ons maak ’n bespotting van God. So asof ons vir die wêreld wys dat ons geen respek vir God het nie. Nee, nog erger, ons wys vir die wêreld dat ons nie eintlik na God luister nie en maar net ons eie ding doen.

Dis die waarheid: 8Mense wat hulle nie steur aan wat ek sê nie, maak ’n bespotting van God wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. En vir seker wil ek en jy nie onder dié mense getel word nie. Ons het mos te veel respek vir God. Hy het so baie vir ons gedoen. Hoe kan ons dan anders as om ’n lewe te leef waar Hy gerespekteer word?

Jip, elke outjie het ’n foutjie. Party ’n hele paar. Tog gee dit ons nie die reg om maar net so aan te foeter nie. Nog minder is dit ’n rede om op die ou weë aan te karring. Ons kan nie sê: “So gemaak en so gelaat staan nie.”

Êrens moet ons ’n pen inkap. Êrens moet ons besef dat ons nie so kan aangaan en God se Naam deur die modder sleep nie. Dit is weer tyd vir versterkings inroep. Hiervoor het God juis Sy Heilige Gees vir ons gegee. Hy woon reeds in ons. Onthou: Almal wat Jesus aangeneem het as Saligmaker ontvang sy Gees.

Die probleem is egter dat ons te veel hol en te min tyd maak vir die Heilige Gees om Sy sê in ons lewe te sê. Ons maak nie tyd om stil te word nie. Ons maak nie ’n afspraak met God om Hom in Sy Woord te ontmoet nie. Is dit nie juis die rede hoekom ons lyk soos ons lyk en hoekom ons sukkel om ontslae te raak van die foutjie of foute in ons lewe nie?

Ek kry ’n groot les by Neels oor Sonde 101:

Laasweek slaap ek bietjie laat en dus draf ek vinnig deur die bad, laai die kids by die skool af en spoed werkplek toe. Ek kyk vir myself in die tru-spieël en sien my stoppelbaard wat soos ’n horde klomp angels uitsteek. Vinnig gryp ek die elektriese skeermes en kry die gesig weer ordelik.

Skielik val die gedeelte in 1 Korintiërs 15 my by oor die angel van die dood is die sonde…

Weer kyk ek vir myself in die spieël en sien geen “angel-baard” uitsteek nie. Maar ek weet ek sal môreoggend weer die skeermes moet gryp.

Die probleem is dat die skeermes nie die baard met wortel en al uitpluk nie. Nee, dit word net oppervlakkig afgesny en “weggesteek” tot môre toe.

So tref dit my dat dit presies is wat ek daagliks doen. Ek steek net my oortredinge vir myself en die wêreld weg, maar kort voor lank steek dit weer kop uit, soos my stoppel baard en dan is my sondes weer duidelik sigbaar.

Dus moet ek ook aan my “Christelike CV” werk en die stoppels met wortel en tak uitruk om skoon voor God te kan staan. Ons is immers Jesus se bruid. Ons het nodig om Christelik betaamlik te wees en te  lyk.

Kom ons maak moeite en ruk daai sonde met wortel en tak uit. Kom ons vra ons vriende en die Heilige Gees om te help. Dan sal God se Naam al die pad geëer word.

Teks

1 Tessalonisense 4:1-8

Om oor na te dink

Watter sonde bly pla?

Hoe kan jy daarvan ontslae raak?

Wie kan jy vra om te help?

Gebed

Here, ek wil U dien. U het so baie vir my gedoen dat ek nie anders kan as om binne U wil te lewe nie. Help my Vader, want ek sukkel. Laat U Gees my lei, want dis al wat sal werk. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek