God se Woord in vandag se woorde

En die owerhede


My vriend het ’n groot besigheid. ’n Klomp monde is afhanklik daarvan. Hy betaal selfs ’n pastoor om elke dag in die strate van Pretoria die Evangelie aan die honger mense te bring.

Sy produkte is hoofsaaklik vir ’n groot staatsmaatskappy. Hulle moet sy produkte gebruik, maar weens wanbesteding en swak bestuur is alle onderhoud eenvoudig net gestaak. Dit is een gedeelte van my vriend se besigheid wat net stilstaan. Hy moes ’n tydjie terug vir sommige van sy mense sê dat hy nie meer werk vir hulle het nie.

Maar dit was nie al nie. Net verlede week laat weet die staatsmaatskappy dat hulle nou geen produkte van hom mag koop nie, want hy is nie ’n BEEE1-maatskappy nie. Dit is in opdrag van die land se leiers. Nou hang sy besigheid, hyself en die res van die werknemers aan ’n dun draadjie.

’n Mens wil teen die dak uitskree. Nee, ’n mens wil eintlik baie hoër skree en vra, hoekom Here? Hoe gaan die arme mense kos op hul bord kry? Hoe stap ’n mens die pad verder? En dan, uiteindelik, kom staan ’n mens stil by die vraag: Here, hoor U nog? Here, wat moet ek doen?

En dan kry ek die antwoord: 1Sê baie duidelik vir die gelowiges om te luister na alles wat die owerhede sê. Hulle mag nie in opstand kom teen mense wat in leiersposisies is nie. Hulle moet ook elke kans aangryp wat hulle kry om goed te doen.

Aikôna, Here, is my eerste uitroep. Ek gaan soek hulp by die ’83-vertaling, maar dit help my nog verder in opstand in: 1 Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is.

Wat sê ’n mens nou vir my vriend en al die ander wat pimpel en pers gedruk word deur die owerhede?

Met die klomp vrae in my, besluit ek om my vriend waaroor ek hier bo vertel, te vra. Hy antwoord:

Ek glo nog steeds. Ons moet die Here 100% vertrou. Waar daai deure toegaan, gaan die Here weer ander deure oopmaak, ons moet Hom net ken op die pad.

Ja, ons moet gehoorsaam wees aan die owerhede, maar dit sê nie ons kan geen ander heenkome vind nie. Ek het ‘n baie positiewe ontvangs en ervarings gehad om besigheid in Botswana en Mosambiek te doen. Hulle dryf nie die “kleur”-ding nie.

Die Here het ons geskool met talente om ‘n verskil te gaan maak, waar ons ook al ons bevind. Die taai tye is juis daar om ons weer nader aan die Here te bring.

Ek leer baie by my vriend.

Op ons groepie is ons ander vriend wat juis by die staatsinstansie werk. Hy het nog altyd reguit gepraat:

Ek is laaste een om raad te gee. Maar aangesien jy vra…

Ons moet hoop. Ons hoop moet in God wees en nie in aardse dinge nie.

Ek het besluit ek gaan positief ingesteld bly. Ek lewe nog en die son skyn en ons kinders aanbid Hom.

Wat die politiek en ekonomie aanbetref … Is ek ‘n realis … Dis in sy kas in …

Ek leer net so baie by die vriend van my.

Antwoorde moet ons elkeen by ons Vader kry. Sommige vrae gaan dalk onbeantwoord bly, soos myne en my vriende s’n. Wat ek wel glo, is dat ons moet bly hoop en vertrou en glo dat die owerhede ook ons Vader sal aanbid!

Dan sal dit makliker gaan met Titus 3 vers 1.

Teks
Tit 3:1-2

Hoe voel jy oor die staat?
Moet jy dalk anders doen?
Is jy bereid om vir die owerhede te bid?

Gebed

Here, wat die regering doen, maak nie altyd vir my sin nie. Help my om my hoop in U te vestig en te vertrou dat U nuwe deure sal oopmaak. Lei my om U stem te hoor as ek nie antwoorde het nie. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek