God se Woord in vandag se woorde

En jou verskoning is?


Ek skryf om die teks vir myself verstaanbaar te maak. Daarom is ek eerlik, soms blootstellend eerlik. Maar wat moet ek nou anders doen? Ek kan mos nie die dinge onder die mat vee en maak asof dit nie bestaan nie.

Soms maak ek te vinnig verskoning as ’n stem vir my sê ek moet iets doen waarvoor ek nie lus is nie. Ek het gewoonlik goeie redes wat ek aanvoer om myself te regverdig. Soms is ek te besig, soms te onseker, soms te moeg, soms te, uh … ja, net eenvoudig nie lus nie.

Ek wonder of jy ook al die regte pad gemis het omdat jy agter ’n ry verskonings weggekruip het …

Ek kry so ’n rilling oor my lyf.

Ek vermoed Paulus wou ook ’n verskoning of twee uit Timoteus se arsenaal kom haal: 12Moenie dat mense op jou neersien omdat jy so jonk is nie.

Wat is jou verskoning?

Ouderdom
Roeping
Een of ander gebrek
Geslag
Te skaam
Te sondig
Onseker
Nie genoeg kennis nie
Weet nie eintlik hoe nie
Bang
Wat gaan die mense van my dink?
My energievlakke …

Ek is seker daarvan dat jy nog ’n paar uit jou arsenaal kan byvoeg.

Ek hoop jy kan ook, soos ek, eerlik daaroor wees. Ek hoop dat jy self die skille van jou oë sal aftrek sodat jy kan sien dat ander mense van die pad loop omdat ek en jy eerder verskonings uitpluk eerder as om ons roeping uit te leef.

Onthou, ons hoef dit nie op ons eie te doen nie. God soek net getroue, gehoorsame en gewillige kinders. Hy sal ons self die krag gee. Hy sal vir ons wysheid gee. Hy sal ons hand neem en ons help om die regte dinge te doen. En indien nodig, sal Hy die regte woorde in ons monde lê. Ja, Hy is die Een wat ons toerus met alles wat nodig is sodat ons verskonings nie in die pad sal staan van ons gehoorsaamheid nie.

Is jy bereid om jou verskonings weg te pak? Is jy bereid om eerlik te wees oor waar jy ’n impak in die lewe moet gaan maak? Is jy bereid om te gaan?

Dan moet jy gaan!

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Is jy bereid om jou verskonings weg te pak?

Is jy bereid om eerlik te wees oor waar jy ’n impak in die lewe moet gaan maak?

Is jy bereid om te gaan?

Gebed

Vader, ek moet erken dat ek ’n redelike groot arsenaal van verskonings het om nie te doen wat U van my verwag nie. Help my, Here, want ek wil graag my roeping gaan uitleef daar buite. Daar is so baie mense wat U liefde nodig het. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek