God se Woord in vandag se woorde

En nog krag vir elke dag


Filippense 4:10-20

Dis so ’n wonderlike vers dié, dat ek nie anders kan as om weer ’n keer hier stil te staan nie. Hier is ’n wonderlike verhaal van iemand wat weet waar sy krag sit. Hy het gedruk gevoel om iets by die steenkoolmyn, waar hy in Gauteng werk, te doen. Maar hy was bang. Tog het hy krag ontvang.

Corné skryf:

Die Here God is net so ongelooflik awesome!

Ek het die eerste stap gevat en die 22 swart mense en 2 wittes wat saam met my werk in ’n groep om verskoning gevra vir die seer en foute van ons verlede. Dat ek jammer is oor al die seer en swaarkry wat hulle en hulle voorgeslagte moes deurgaan.

Ons kan vandag begin om saam daaraan te werk om die lewe ’n beter plek vir ons, ons kinders en hulle kinders te maak deur mekaar te vergewe in Jesus se magtige, heilige Naam. Daar in ons eie huise kan ons begin om anders te leef en te dink. Dit kan ons slegs deur die groot genade van Jesus Christus doen, want Hy en Hy alleen is God en Here van liefde en vrede.

Toe ek wil omdraai en wegstap, begin hulle vir my hande klap en sê baie, baie dankie vir wat ek vandag gedoen en gesê het.

Hulle vra of ons almal saam ’n groot kring kan maak, mekaar vashou en saam bid.

WOW! WOW! WOW! Kan jy dit glo? Ek was stom van verbasing oor hoe God intree as ons vir Hom optree.

Van daar af maak ons nou elke oggend ons kring, ons nooi die Heilige Gees van Jesus in as ons eregas. Ons bid vir mekaar, vir ons werksplek, vir ons dorp, land, regering en Jesus se kerk.

En ons verklaar in Sy Naam dat Hy en Hy alleen God en Here is.

Ons land het soveel meer stories soos hierdie nodig. Stories waarvoor ons te bang is om op ons eie te doen, maar met Jesus wat ons krag gee, kan ons ’n groot ware verskil in die lewe maak.

13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

Waarvoor sien jy nie kans nie? Watter berg is vir jou net te groot om uit te woel? Nee, dit hoef nie net die negatiewe te wees nie, ook dinge wat positief is maar dis net te groot om aan te pak?

My skoonma se bediening het twee erwe by ’n boer gekry. Dit druk in haar om ’n crèche en ’n kliniek daar op te bou. Sy’t nog nie ’n sent nie, maar dit breek nie haar spoed nie, want sy weet waar haar krag vandaan kom.

My WhatsApp status is: What you can dream you can do! Ek moet ’n stertjie aanlas: Because God supplies the power!

Om oor na te dink

Waar het jy krag nodig?

Waar kan jy ’n verskil maak?

Moet jy ietsie van jouself gee?

Gebed

Here, U is my bron van krag. Help my om nie terug te staan vir uitdagings om goed te doen nie, omdat ek weet U sal my bystaan in alles wat ek aanpak volgens U wil. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek