In en uit die kis by ons begrafnis
In Kolossense 2 is Paulus hard besig om die mense mooi en deurdringend te vertel van Jesus se dood aan die kruis en wat dit met sonde gedoen het. Ons gaan nog ’n paar keer by die onderwerp stilstaan.
Dit is goed so, want om die wonderlike daad wat Christus vir ons gedoen het met een keer se lees werklik te begryp, is onmoontlik, selfs vir die slimste en grootste teoloog. Elke keer wanneer ons dit weer lees, spring dit nuut en vars met nóg ’n nuwe boodskap uit.
Om die punt weer te maak en op ’n anderste manier te verduidelik, gebruik Paulus die doop. Met die doop is ons saam met Jesus na die lang bome toe en het die kluite op die kis gereën. 13Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan. Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek…
Ons almal weet dat die straf vir die sonde die dood is. Jy kan geen sonde regmaak met ’n goeie daad nie. Selfs nie ’n miljoen goeie dade kan een sonde tot niet maak nie. Hier is ’n baie belangrike doel van die doop: Dit is eintlik ’n begrafnis. En dit is my eie begrafnis, al is dit so ’n bietjie voor die tyd.
Tydens ons begrafnis kry ons wat ons verdien vir die klomp sondes wat ons gedoen het en nog gaan doen – die dood – uiteraard van die saak! Maar gelukkig bly ons nie lê nie. Nee, gelukkig word ons nie alleen begrawe nie. Iemand wat die paadjie alreeds moes deurgaan, is deel van ons begrafnis, saam met ons in die kis: Christus!
En met ons eie begrafnis volg ons vir Jesus na die dood. Maar ons klim nie net in en gaan lê saam met Hom in die kis nie, maar wanneer Hy opstaan en uitklim, is ons kort op Sy hakke! Wie wil dan nou bly lê as die lewe voor jou uitgestrek lê?
Dit is dan onverstaanbaar hoekom baie nog die skuld van die sonde saam met hulle sleep. Sommige sleep die sak met sondes elke dag saam. Die sweet tap hulle af, hulle spoed word gebreek, hulle is ongelukkig, hulle kan niks vir ander doen nie, soms trek die skuld so swaar dat hulle nie eens in die oggend kan opstaan nie. En dit vir goeters wat ons reeds saam met Christus in die kis kon los.
Ai, my vriend. Wil jy nie saam met my op jou knieë val en jou sonde voor God bely en dit daar los nie? Dit was nooit God se bedoeling dat jy jou sondeskuld vir altyd met jou moet saamsleep nie. Nee, God wil juis hê dat ons moet vlieg. Dat ons ’n pad moet loop waar ons hop, skip en jump. Kom ons los nou die bagasie en doen vandag juis dit!
Al wat ons moet doen, is om te glo dat ons saam met Jesus uit die dood opgewek is: 13… Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen.
Gaan lewe met vryheid, sonder enige handbrieke wat opgetrek is.
Teks
Om oor na te dink
Wat trek jou handbriek op?
Hoekom is dit moeilik om jou sonde by Jesus te los?
Wat moet jy nou doen?
Gebed
Jesus, dankie dat U kruisdood my verlos het van ’n lewe wat deur sonde oorheers word en wat na die dood lei. Deur U gehoorsaamheid aan God het ek ook die kans om ’n nuwe begin te maak: ’n Lewe in die lig. Ons juig omdat ons sondes vergewe is in die Naam van Jesus. Amen.