God se Woord in vandag se woorde

Familie wat koes vir curve balls


Filippense 4:21-23

Daar kom tye wanneer ’n mens alleen voel. Tye wanneer jy voel jy maak dit nie. Tye wanneer die swart hond ook by jou voordeur wil kom lê en jy wonder waaroor gaan die lewe. Nee, ek wil nie die pap te dik aansmeer nie, maar soms voel ’n mens net nie lekker nie en begin jy wonder na die sin van die lewe…

Dalk is jy nie daar nie, maar ek wet jou as jy so bietjie onder jou vriende vra, gaan jy gou een kry wat tussen die vloer en die politoer lê. Dit is deel van die lewe. Omdat die lewe waarin ons op die stadium vasgevang is nie volmaak is nie, kom die curve balls al te gereeld aangemars en is ons soms net te stadig om te koes.

Ek is dankbaar vir my vrou by wie ek in tye wat die balle net veel kom, kan gaan sit en praat. Ja, soms praat ons nie ’n woord nie, maar om te weet daar is iemand wat verstaan, iemand wat nie al die antwoorde het nie, maar luister, is genoeg.

In Paulus se tyd het dit nie veel beter gegaan nie. Inteendeel, dit het veel erger gegaan, want al die Christene se lewens was onder druk, onder doodsdruk. Die netto effek van druk is dat mense nader aan mekaar kom. Al het die een net so min soos die ander, deel hulle en gee hulle uit.

So anders as wat die meeste van ons aan gewoond is en selfs doen. Gaan sit op ’n klip en dink aan jou ware vriende. Gaan kyk hoe dik die bande tussen julle is en wat nou eintlik die motiewe is hoekom julle bymekaar is.

Hier aan die einde van Paulus se brief kry ’n mens ’n kykie in die vriendskapsbande: 21Sê asseblief groete namens my aan al die Christene daar by julle. 22Die Christene hier stuur ook groete. Die Christene wat op die keiser se personeel is, sê spesiaal groete.

Onthou, Paulus is in die tronk. Die mede-Christene het seker almal geweet van die brief wat geskryf word aan die Christene daar in Filippi. In my geestesoog sien ek hoe die Christene daar verby Paulus se sel stap en hom vra om te vertel van sy toere en waar hy orals was. Ek sien hoe Paulus met ’n vêr kyk in sy oë vertel van al die geliefdes wat hy op sy toere leer ken het en dat hulle soos familie geraak het.

En op ’n manier ontstaan daar ’n band tussen die Christene in die tronk en die wat vêr in Filippi bly. Sonder dat hulle mekaar ooit ontmoet het, stuur hulle groete. So ’n band tussen onbekendes kan net ontstaan as daar ’n gemeenskaplike gom is soos Jesus en die Heilige Gees.

In ’n wêreld waar ons net op onsself aangewese is, ’n wêreld wat ons net harder druk om meer sukses te behaal, is daar soveel alleen mense. Elkeen van ons maak een of ander tyd ’n draai hier – selfs die grootste ekstrovert wonder soms of alles die moeite werd is.

Dis nie hoe God dit beplan het nie. Eintlik is ons deel van ’n moewiese familie. Om elke hoek en draai is daar ’n broer of ’n suster. Miskien moet ons hulle net meer soek. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees in ons woel, sodat ons meer aan mekaar kan raak. Sodat ons na mekaar kan uitreik, want net môre staan ons weer alleen met die curve balls in die hand en dan sal dit darem lekker wees om ’n glimlag of ’n hand op die skouer van ’n vriend, broer of suster te ontvang.

God gee vir ons hordes boeties en sussies en ons moet mekaar dien. Dalk net om die volgende draai staan een van hulle stoksielalleen op soek na iemand om mee te praat of te vra om te help dra aan ’n las. Jy is dalk net die regte een om daar betrokke te wees.

Dalk is jy die een wat volgende om die draai alleen staan en wag vir ’n familielid om sy of haar hand op jou skouer te kom sit…

Om oor na te dink

Wie’s jou familie?

Voel jy soms alleen?

Na wie kan jy uitreik?

Gebed

Vader, dankie dat U ons aan mekaar gegee het om mekaar lief te hê en te dien. Ons is nie gemaak om soos ’n eiland alleen te staan nie. Help ons om na mekaar uit te reik en sterk te maak in moeilike tye. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek