God se Woord in vandag se woorde

Figgi, Hermi of Onesifi?


Paulus is Timoteus se mentor. Timoteus is nog jonk en moet nog ’n paar dinge in die lewe leer en ervaar. Daarom vertel Paulus stories en ervarings uit sy eie lewe om nie net vir Timoteus rigting te gee nie, maar ook om hom swaar en seer te spaar. Een van die eerstes waarteen Paulus hom waarsku is die mens: 15Jy het seker gehoor dat al die Christene wat uit Asië kom, my hier in die steek gelaat het, onder andere ook Figelus en Hermogenes.

Op ’n manier probeer Paulus vir hom sê: ”That’s life.” Die mense naaste aan jou gaan jou die seerste maak. Die mense wat jy gedink het kan jy met alles vertrou, dit is juis hulle wat jou soos ’n vrot pampoen gaan los.

Gelukkig hou Paulus nie hier op nie, maar hy skets ook die ander kant: 16Onesiforus was egter nie skaam dat ek hier in die tronk sit nie. Hy het gereeld vir my kom kuier. Mag God daarom ook vir hom en sy huisgesin baie liefde bewys en goed wees vir hulle. Daar is wél mense wat jou nie sal teleurstel nie.

Daar is mense wat vir seker nie sal weghol nie. Daar is vir seker mense wat groot genoeg sal wees en hulle nie vir jou sal skaam nie. Daar is mense wat genoeg wysheid in pag het om te weet wat in ander steek en ander deur dik en dun sal ondersteun.

Die vraag vir ons elkeen is: In watter groep val jy? Is jy ’n Figgi en Hermi of is jy ’n  Onesifi? Is jy een wat jou effe skaam vir dié wat alles doen om die evangelie uit te dra of is jy die een wat alle stoppe sal uittrek om dié wat iets doen vir die uitbreiding van God se koninkryk, te ondersteun?

Ja, ons almal het al aan die ontvangkant gestaan van mense wat jou soos ’n warm patat los, maar ons ken ook mense wat net nie ophou om goed te doen nie, mense wat te midde van alles, aanhou gee. Watter lekker ervaring is dit nie om mense te ontmoet wat enige iets, ja, regtig enige iets vir jou sal doen nie!

Vir die res van sy lewe sal Paulus nie kan vergeet wat Onesifi vir hom gedoen het nie. 17Om die waarheid te sê, toe hy hier in Rome aangekom het, het hy sonder ophou na my gesoek tot hy my gekry het. 18Jy self weet ook mos hoe hy my in Efese gehelp het. Mag die Here vir hom baie goed wees wanneer Hy weer kom.

Onesifi het so ’n groot impak op Paulus se lewe gemaak dat hy wens God seën hom sommer ekstra.

Die vraag is weer: In watter groep val jy? Is jy ’n Figgi en Hermi of is jy ’n Onesifi? Vra die mense met wie jy in aanraking kom ook vir God om aan jou ’n ekstra dosis seën te gee of hoop hulle dat jy eintlik maar jou ry uit hulle lewe sal kry?

Dalk het jy nie die moed om na die mense te gaan met wie jy elke dag kontak het om hulle te vra watter een van die drie persone speel jy in hulle lewe nie. Dalk kan jy die vraag self beantwoord.

Miskien moet ons doelbewus probeer om te midde van die min tyd in ons lewens planne te maak om steunpilare in ander mense se lewens te wees.

Miskien moet ons nie een klip onaangeraak laat om ander te soek wat ons hulp nodig het nie.

Nie omdat ons kan nie, maar uit genade alleen!

Teks
2 Tim 1:13-18

Om oor na te dink
Figgi, Hermi of Onesifi?
Figgi, Hermi of Onesifi?
Figgi, Hermi of Onesifi?

Gebed
Here, dankie vir die mense in my lewe wat soos Onesiforus vir my omgee. Ek wil ook ’n Onesiforus vir ander wees. Maak my oë oop dat ek kan sien waar U wil hê ek moet aandag gee. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek