God se Woord in vandag se woorde

Finaal afgesny


My vrou raak soms erg ongelukkig as ek iets vergeet wat sy gevra het ek moet saambring van die winkel af. Hoeveel keer is ek al kafee toe gestuur om brood te gaan koop en dan kom ek terug met alles behalwe brood. Dan wil sy hoenders vang. Maak tog volgende keer ’n knoop in jou das (wat ek nooit dra nie!) of in jou oor (wat tog nie kan werk nie!). Dan ry ek maar weer sonder om iets te sê en ek konsentreer woes om darem dié keer die brood te onthou.

Ek sien party mense sit hulle horlosie op die ander arm om iets te onthou. Dit lyk vir my asof die besnydenis ook so ’n knoop-in-die-das-herinnerinkie was. As gevolg van die besnydenis kon die man ’n paar keer in die dag in die toilet herinner word aan die belofte van Jahweh, ons God.

Na Jesus se dood aan die kruis was die fisiese besnydenis nie meer nodig nie. Die sonde wat tussen ons en God gestaan het kom nie meer in die prentjie wanneer God na ons kyk nie.

’n Vriend van my sukkel hiermee. Elke keer as dit net so effe moeilik gaan, sê hy: “Ja nee, dit is omdat ek so baie verkeerde dinge in my lewe gedoen het dat dit so rof gaan!” Nadat ek hom al ’n paar maal herinner het aan die betekenis van Christus se kruisdood, het ek hom die laaste keer ernstig aangevat: “So kan dit nie aangaan nie! Met sulke uitsprake maak jy die dood van Christus nutteloos.” Ek het dalk ’n bietjie hard oorgekom, maar later het hy begin verstaan.

Paulus sien dat die ouens in Kolosse ook sukkel met die idee dat die houvas wat die sonde op hulle gehad het, weggeneem is. Daarom gebruik hy ’n beeld van die besnydenis wat hulle goed ken. 12Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit kan nie weer teruggeplak word nie. Dit is vir altyd af, weg, koebaai! Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg.

Die mens se sondige natuur is van hom af weggeneem. Wanneer jou sondes deur Christus weggeneem is, kan dit nie weer teen jou gehou word nie. Dit is weg. Net soos met die besnydenis, kan dit nie weer teruggeplak word nie.

Hoekom kan ons nie ons pakkie sondes by Christus se kruis los nie? Hoekom laat ons steeds toe dat sonde ’n houvas op ons het?

Wil jy nie nou ’n tydjie inruim en net so sit en met God praat oor al die sondes wat jy nog saam met jou sleep nie? Bely dit voor God. Vat elkeen een vir een en plaas dit voor Hom. Ja, selfs daardie groottes. Al maak dit seer, haal dit uit.

Weet nou dat God jou vergewe het en nie meer aan daardie foute dink nie. Dit is weg. Dit bestaan nie meer in God se oë nie.

Ja, dit voel te maklik en miskien wil jy iets doen om die vergifnis te verdien. Jy dink dalk dat ’n goeie daad of ’n paar honderd rand in ’n bordjie die ding sal doen. Nee, my vriend, dit is nie nodig nie, want vir daardie klomp sonde van jou is daar reeds betaal.

Jy moet nou uitgaan en so gaan leef. Gaan leef as ’n verloste. Gaan leef soos iemand wat geen las dra nie. Gaan leef soos iemand wat nie meer ’n slaaf van die sonde is nie, want deur Jesus se kruisdood is jy nou ’n nuwe mens. Moenie verder toelaat dat die sonde ’n houvas op jou het nie.

Teks

Kolossense 2:9-12

Om oor na te dink

Sleep jy nog aan ’n paar sondes?

Skryf hulle neer.

Besef jy dat Jesus se kruisdood dit klaar afgesny het?

Gebed

Vader, dankie dat ons deur Jesus se kruisdood verlos is van ’n sondige bestaan. Dankie dat ons nou in oorwinning oor die sonde kan leef en dat die sonde nie meer ’n houvas op ons het nie. Help ons om te breek met die sonde, want Jesus se bloed het ons vrygemaak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek