God se Woord in vandag se woorde

Gaan na die hemel-kaartjie


Monopoly was een van my gunsteling bordspeletjies as kind. Ons het ure aaneen gespeel om soveel as moontlik eiendom in die hande te kry. Om ’n hele paar hotelle in Eloffstraat te besit, was die mikpunt. Met harde werk, goeie beplanning en hier en daar ’n bietjie geluk raak jy uiteindelik die grondbaron. Sommige het onder die tafel saamgewerk om een van die ander spelers bankrot te verklaar. Sommige was skelm en het geld by die bank geleen en net “vergeet” om dit weer terug te betaal. Ja, sommige se strategie was nie altyd so vars nie.

Ek het die tronk gevrees, want om vir ’n paar rondtes nie deel te kon neem nie, was gewoonlik fataal. Daarom was dit vir my ’n hoogtepunt om op die “kans”-blokkie te val en boonop ook ’n “Gratis uit die tronk”-kaartjie te ontvang. Hierdie kaartjie kon my daardie hupstootjie gee om op die ou end as oorwinnaar uit die spel te tree.

Eintlik is Monopoly ’n kleiner weergawe van die ware lewe. Ons almal spring gelyk weg in die lewe. Ons kom met niks hier in nie.

Daar is sommige mense wat mooi volgens die reëls speel en baie suksesvol raak. Dan is daar ook ander wat nie volgens die reëls speel nie en ook baie suksesvol raak. Daar is sommige wat gereeld in die tronk gaan kuier as gevolg van keuses wat hulle maak.

Maar uiteindelik is ons almal na ons aardse lewe op pad na die ewige tronk, of soos die Bybel dit noem, die ewige verderf. Dié wat ’n graaf ’n graaf noem, praat sommer van die hel. Dié eindbestemming was wat ons elkeen verdien het as gevolg van die hope en hope sondes wat ons gedoen het. Ons het dit 100% verdien.

Maar God kon nie toekyk dat dit met elkeen van Sy skepsels gebeur nie. 9God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. 10Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef.

In die regte lewe is daar vir elkeen ’n “Gaan-na-die-hemel”-kaartjie beskikbaar. Sonder dat jy dit verdien, ontvang jy dit, want sien, Jesus het reeds daarvoor betaal. Duur betaal met Sy bloed en Sy lewe. Ja, die hemel is gratis, maar dit het verskriklik baie gekos. Ons Koning God se Seun se lewe.

Die wonderlikste van alles is dat dit vir almal beskikbaar is. Jy hoef nie geluk aan jou kant te hê, soos in Monopoly, om toevallig op die “kans”-blokkie te val nie. Nee, hierdie “Gaan na die hemel”-kaartjie is vir almal beskikbaar.

Gaan leef nou ’n lewe van vreugde en onophoudelike vrede en gaan wys vir elke Jan Rap en sy maat jou “Gaan na die hemel”-kaartjie.

Om oor na te dink

Het jy al jou kaartjie geneem?

Wys jy dit vir ander?

Vir wie moet jy dit vandag of môre gaan wys?

Gebed

Dankie, Jesus, dat ek ’n plek in die hemel het omdat U bereid was om in my plek die straf vir my sondes te dra. Ek wil my dankbaarheid uitleef deur ’n lewe van gehoorsaamheid aan U te leef. My hart loop oor van blydskap. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek