God se Woord in vandag se woorde

Gaan!


Op universiteit was ek deel van ’n komitee wat die sendingweek gereël het. Tydens hierdie week was daar elke aand ’n groot byeenkoms met ’n internasionale spreker. My verantwoordelikheid was om die onderste gedeelte van die Studentesentrum, die Neelsie, gereed te kry vir die tientalle sendelinge wat hulle organisasies daar kom bekendstel.

Elke jaar moes ons ’n tema kies. ’n Tema waarby almal kon aanklank vind en waar die spreker elke gelowige se hand kon neem om ook sy of haar roeping in die lewe te ontdek. Die tema moes eenvoudig, maar treffend wees. Toe Edison Queiroz uit Suid-Amerika die gasspreker was, was die tema: Gaan!

Dis vanselfsprekend. Ons moet gaan en die hele wêreld vertel van die verlossende boodskap van God. Almal het dieselfde opdrag: 11Jy moet vir mense hierdie dinge leer en vir hulle sê om dit te doen.

Gaan! Go!

Dit gaan nie goed daar buite nie. Mense loop oor mense. Hulle doen finansiële transaksies wat verreikende gevolge vir ander het. Ek ken ’n oom wat ’n dosent by die universiteit was en by sy aftrede sy geld belê het by ’n groot maatskappy. Die ouens was oneerlik. Die oom het alles verloor en moet nou op ’n gevorderde ouderdom bouer speel. Daar is duisende sulke stories.

Ek wonder wat sou gebeur het as iemand die baas van die versekeringsmaatskappy vertel het van die verlossende boodskap van Jesus. Sou hy sy besigheid dan bo die tafel gedoen het en so gekeer het dat duisende onskuldige mense alles verloor het?

Die wêreld het vir Jesus nodig. Orals sit mense vas in wedlope wat nie goeie eindes het nie. Mense loop in ander mense vas. Mense loop in hulle eie drome vas, omdat dié drome van plastiek gemaak is. Kyk maar rondom jou. Jy sien orals mense wat in die donker rondploeter. Hulle smag na die lig – al weet hulle dit nie eers nie.

Elke volgeling het ’n opdrag om te gaan! ’n Handjievol is geroep vir sendingwerk in die verre lande. Die res van ons moet daar waar ons woon, werk en speel die verlossingsboodskap uitleef. Hoor mooi: uitleef, want die Engelse spreekwoord sê mos: Actions speak louder than words.

Hierdie eenvoudige boodskap is vir ons almal. Ons moet ’n verskil maak. Die mense rondom ons het hierdie boodskap net so nodig soos wat ons dit het. Gaan leef jy die verskil. Staan op vir ongeregtigheid. Staan op en spreek die onderduimse manewales van groot besigheidsmense aan. Wys vir mense wat God in jou lewe doen en indien nodig, gebruik woorde.

Dalk voel jy nie geskik om God se verlossingsboodskap uit te dra nie, maar jy moet weet dat God net wil hê dat jy jou hand sal opsteek. Hy sal self toerus. Hy sal self vir ons die geleenthede skep om Sy saad te saai. Hy sal deur middel van Sy Gees woel en die saad laat opkom.

Ongelukkig kan ek nie belowe dat dit altyd maklik sal gaan nie. Daar is groot risiko’s aan verbonde, maar die beloning is uit ’n ander wêreld.

Doen God se wil vir jou lewe. Gaan! Go! Dis die enigste plek waar ware vrede lewe.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Dink bietjie hieroor

Lewe jy binne God se wil?
Sien ander vir God in jou lewe raak?
Waar moet jy ’n verskil gaan maak?

Gebed

Here, ek hoor en ek weet ek moet ’n verskil gaan maak, maar ek is bang en onseker. Ek weet nie eers waar om te begin nie. Maar ek wil graag doen wat U van my vra. Lei my om te gaan waar U my stuur! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek