God se Woord in vandag se woorde

Gebed verander jou


Somersoggende in die Wes-Kaap is verfrissend. Vroeg soggens is daar nog geen geraas van motors of mense nie. Die voëltjies rumoer en spring van die een tak na die ander en die tortelduiwe sit hoog in die takke en koer. Ek en my vrou raak stil om te bid en ek word oorval deur emosies.

Dankbaarheid vloei uit my binneste en ek kan nie ophou om vir God dankie te sê vir my lewe, vir beskerming, vir my vrou en vir ons kinders nie. Ek sê vir God dankie vir al die mooi dinge in Sy skepping. Ek sê vir Hom dankie dat Hy ons vertrou om in Sy wêreld te werk.

En soos ek bid, besef ek dat God te alle tye bewus is van wat in my lewe aangaan, dat Hy die heeltyd by my is en dat alles wat ek het en ook wie ek is, as gevolg van Hom is. My woorde van dankbaarheid raak op en ons sit maar net so in verwondering oor ’n grote God wat nie anders kan as om uit te reik na Sy kinders nie.

Sjoe, ek staan anders daar op as wat ek gaan sit het. En dit is presies wat gebed doen. Die mens raak anders. Ja, God weet al lankal wat ons gaan sê en wat ons gaan vra. Tog is dit steeds belangrik dat ons bid, want óns stap anders daar weg.

Jy sien, wat tydens gebed gebeur het, is dat ek op ’n manier afstand gekry het van my eie wêreld en bewus geword het van God se wêreld. Ek is oorval deur die grootheid van God se skepping en terselfdertyd het ek my eie nietigheid raakgesien.

5Deur gebed sê ons vir Hom dat ons Hom erken as die Een wat alles gemaak het.

Tydens gebed besef ek dat God almagtig is, al voel dit nie altyd so nie. Al lyk die wêreld soos dit lyk. Opgemors deur die mense wat so mors. Maar wanneer ek voor God kniel, help Hy my om deur Sy oë na die wêreld en die mens te kyk.

Dan kry ek rus en word ek rustig. God het alles gemaak en sal nie toelaat dat die mens vernietig word nie.

Este Pepler help ons met haar mooi woorde om te bid deur haar gedig: Skemergedagtes

O Heer, U stap die pad voor my
Laat my net in U spore bly
U ken die pad; ek volg U graag
Al is my voete soms maar traag

Die eindproduk is in U sig
Ek tas in duister; soek die Lig
O Heer, as ek maar kon verstaan
U het reeds lankal als gedaan

En al wat U van my verwag
Is om te fokus dag na dag
Op U my Redder en my Heer
Om sonde nou die rug te keer

En toe te laat dat U my leer
Ek buig in stilte voor U neer
Vee uit my skuld en sondelas
U het my skitterwit gewas

As “heiliges” kan ons U nader
Vir ons is U net soos ’n vader
Daarom o God, aan U die eer
Dié Een wat ewig sal regeer!

Mag jy meer stil raak en toelaat dat God met jou woel as jy by Hom kniel.

Teks

1 Timoteus 4:1-5

Dink bietjie hieroor

Bid jy?
Bid jy genoeg?
Verander gebed jou?

Gebed

Here, U is heilig en alles wat U gemaak het, is goed. Vergewe die tye wanneer ons afdwaal van dit wat U in gedagte gehad het vir die mensdom. Bring ons terug na U oorspronklike idee van geloof in Jesus Christus, en help ons om ons geloof in suiwerheid en met danksegging uit te leef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek