God se Woord in vandag se woorde

Gebed verander


Al die Kruispad skryfsels word ook op die sosiale netwerke versprei. Daar kan ’n mens mooi sien aan hoeveel mense die boodskap blootgestel word en hoeveel daarop reageer. Met die drie-keer-per-week se skryfstukke bereik ons tussen drie- en vyfduisend mense. Met die kleurprentjie en kort boodskap wat via Instagram op Facebook land, bereik ons tussen ses- en tienduisend mense.

So nou en dan is daar ’n uitskieter. Die een word 600 keer ge-share, kry 2 500 likes en verskyn op meer as 52 000 walls. Dit gons en mense lewer kommentaar. En die boodskap: Bid vir mekaar, dit werk!

So ’n eenvoudige boodskap en dit maak soveel golwe op die sosiale netwerke. Ek wonder hoekom. Hoekom het die een so woes gewerk? En ek besef dit is wat mense vandag nodig het. Gebed.

Dit gaan woes daar buite. Baie mense is aan die ondergaan en besef dat hulle dit nie op hulle eie kan maak nie. Daar is baie mense wat nie eens weet hoe om te bid nie, daarom like hulle die boodskap in die hoop dat iemand juis vir hulle sal bid.

Paulus ken die krag van gebed. Daarom is dit ook altyd sy vertrekpunt: 1Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor.

Gebed is die antwoord op alle omstandighede. Gebed werk, want aan die ander kant van gebed is daar ’n lewende God wat luister. Daarom moet ons bid, aanmekaar en vir mekaar.

In hierdie vertaling gaan die intensiteit van die gebed so bietjie verlore. In die 1983-vertaling moet daar met smeking, voorbidding en danksegging gebid word. Jy sien, dis nie sommer maar net ’n inkopielys wat ’n mens aframmel nie. “Here, gaan met die met daai probleem. Here help vir daai en gee die.”

Nee, met smeking beteken dat jy in alle erns vir die ander sal bid. Dit neem tyd. Dit neem kennis van God se Woord, want dit is juis hier waar ’n mens God kan  herinner aan Sy beloftes wat Hy alreeds vir ons gegee het. Soos ’n seuntjie elke keer uit ’n ander hoek probeer om sy ma te oorreed om vir hom iets te gee, so moet ons nie ophou om by God te smeek nie.

Voorbidding of intersessie beteken juis dat ons namens ander sal bid. Baie keer kan ander nie bid nie. Baie keer wil ander nie bid nie. Baie keer weet ander nie eens dat hulle gebed nodig het nie. Dis hier waar ’n mens as’t ware tussen God en die mens intree en die persoon en sy behoeftes voor God gaan neersit. By kruispad.com het ons ’n paar honderd intersessors wat vir mense intree en hulle behoeftes voor God neersit.

En met danksegging. Ons moet God bedank vir wat ons en die persoon waarvoor ons intree reeds elke dag van Hom ontvang. Sy genade. Sy liefde. Sy seun wat vir ons sondes se straf aan die kruis gehang het. Kan ons vir God ooit genoeg dankie sê hiervoor?

En dan hoor ek ’n ou sê: “Hoekom is dit nodig om so te bid? God weet tog reeds alles. Wat gaan gebed verander?”

Die mens verander wanneer hy of sy bid, want die mens stap anders na gebed uit as wat hy of sy daar ingestap het. Mag die wete dat God jou gebed gehoor het, jou rustig maak en aan jou vrede gee.

Teks

1 Timoteus 2:1-7

Dink bietjie hieroor

Vir wie moet jy bid?
Hoe moet jy bid?
Waarvoor moet jy bid?

Gebed

Onse Vader, dankie dat ons mag bid. Dankie dat ons kan bid. Dankie dat ons vir mekaar kan bid. Dankie dat U luister. Dankie dat gebed ons anders maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek