God se Woord in vandag se woorde

Gedagtes gou by die deur uit


Sonde daag nie met ’n groot geraas by die voordeur op en druk die klokkie totdat jy oopmaak nie. Sonde weet dat as dit op so ’n manier aankom, die huiseienaar dadelik die deur sal toegooi en keer dat die strooi daar instap.

Sonde kom saggies en subtiel, sonder aankondiging. Eintlik ongemerk word daar ’n klein saadjie in ’n mens se brein geplant en ongemerk dink ’n mens daaraan, sonder om eintlik notisie daarvan te neem.

Ek vermoed dat as ons geweet hoe gevaarlik die gedagte is, ’n mens dadelik daarvan ontslae sou raak.

So het ek al baie projekte aangepak, sonder om eintlik te weet wat die impak daarvan op my lewe sou wees. So byvoorbeeld het ek ’n paar jaar gelede ’n 4×4-kampwa teen ’n spotgoedkoop prys bekom. Opgeroes, en Renata se kommentaar was dat sy nie in so ’n ding sou klim nie, wat nog te sê slaap.

Ek het besluit ek doen hom oor. As ek maar geweet het hoeveel energie daar sou ingaan, sou ek dit heel waarskynlik nie eens gekoop het nie.

Net so werk dit met ‘n saadjie van sonde wat hier in ons gedagtes kom lê. As ons geweet het wat die netto-effek van die plantjie wat ons so soetjies hier in ons gedagtes gekoester het, sou wees, sou ons dit heel waarskynlik met sy eerste opwagting, net daar by die agterdeur uitgegooi het.

Dis sonde se styl. Dit begin met ’n gedagte wat so bitter mooi verpak is, dat ’n mens dit nie wil verstoot nie. ’n Mens wil dit eerder koester, want dit klink so lekker, dit lyk so lekker …

Die probleem is dat as ons so ’n gedagte genoeg wind gee, ons met ons eie kop smokkel en ons later begin doen wat ons dink. Ag, laat ek dit net een keer probeer. Dan sal kan ek dit mos net weer los. Maar dit is juis die slap riem waarmee ’n mens gevang word.

Ek is deur die weermag sonder om te rook, maar toe ek by die universiteit opdaag, lyk dit darem te lekker as die ander manne so praat en suig en die rokie met sulke kringe uit hul monde blaas.

Ek het ook probeer en al was die eerste een vrek sleg, het ek weer probeer en voor ek my kom kry, stook ek soos ’n skoorsteen. Blikkies, maar dit was erg moeilik om op te hou.

Ek vermoed dis presies wat Jakobus ook sê: 14-15 As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van Godverlatenheid en die dood.

Die eerste is maar net ’n gedagte. Dan word dit ’n daad wat later normaal word en die netto-effek ’n afgrond waar God nie is nie.

Kom ons maak dit vir onsself maklik en smyt die gedagte sommer met die eerste kans by die deur uit. So sal ons onsself en ander baie swaar en seer spaar.

Teks
Jakobus 1:12-18

Om oor na te dink
Hoe loop jou gedagtes?
Hoe loop jou dade?
Hoe moet jy van die verkeerde dinge ontslae raak?

Gebed
Vader, ek weet daar is dinge wat pla, nie net gedagtes nie, maar ook dade wat gedagtes was. Help my om daarvan ontslae te raak en in U wil te lewe. In Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek