Geduld wat AMPS trek
Ons leer by Paulus dat die fondasie vir ons geloofshuisie stewig uit God se Woord gegooi moet word. Die stene waarmee ons die huisie bou, moet onder andere ’n suiwer leer, ’n lewenspad wat soos Jesus s’n lyk, verkondig, met net een lewensdoel – om God in die wêreld vir ander te wys. En dit alles terwyl ons deur dik en dun vashou aan ons geloof.
Die volgende bousteen is geduld. Sjoe, dit lyk of dit al moeiliker raak om die geloofshuisie se mure mooi haaks te bou, want o wee, ’n mens se geduld word elke dag tot die uiterste gedruk. Maar God verwag van ons om geduldig vir ander ruimte te gee.
En dis nie maklik nie, kom ons wees nou maar eerlik
Die Griekse woord makrothumia vertaal ons met geduld, maar die Engelse met longsuffering. Dit verduidelik vir ons baie mooi wat geduld eintlik is. Dis swaarkry, dis energie wat getap word, dis om op te gee, ruimte te gee en dis geensins van korte duur nie.
God verwag van ons om dikwels pyn te verduur ter wille van ander. Baie keer moet ons op ons tonge byt, soms dat die bloed loop, want ons weet as ons nou iets gaan sê, gaan ons net verwoesting saai.
Maar ons kry dit nie altyd reg nie. Maria (skuilnaam) vertel haar storie eerlik:
Ek is van nature nie ’n baie geduldige persoon nie, en my road rage is soms nogal erg.
By die robot kom druk ’n taxi reg voor my in. Onmiddellik is ek op my toeter. Ek gaan te kere en so waar as vet, sal die tweede taxi bestuurder ook amper voor my wil inry! Hy kom toe agter my in en blaas sy toeter vir my asof ek verkeerd is. Ek is dadelik woedend en stop toe ook sommer in die middel van die pad en klim uit my motor en vertel die taxi bestuurder wat ek van hom en sy maters dink.
Die taxi bestuurder het beslis nie verwag dat ’n vrou hom sal aanvat nie en het net gery. Terug in my motor is die jong man wat ’n geleentheid saam met my gekry het, stil. Hy het hom lam geskrik.
Nadat ek hom afgelaai het, dink ek by myself: Dis presies hoe die duiwel my feitlik elke keer aanval – en hy kom daarmee weg! Hy lag nou lekker vir nog ’n oorwinning oor ek my humeur so verloor het. Net daar vervies ek my vir Satan en wens ek kon hom ruk en pluk en goed vir hom vertel wat ek van hom dink.
Klink dit bekend? Baie van ons se strip draadjie is ook maar aan die kort kant. Tog, geduld is een van ons boustene. Ons moet besef dat dit amps gaan trek. Dit gaan lyding kos. Ons sal ’n stuk van onsself moet gee.
Maria begin in dieselfde e-pos vir haarself te preek:
Ek moet leer om rustiger te wees en my laste en sorge in God se hande te plaas. Ek bid vir alles, maar tog probeer ek so baie keer alles self oplos en dit werk nie. Dan is ek vies vir almal en vir myself. Ek moet my lewe in God se hande sit. Ek probeer baie keer om kalm en rustig te wees, maar sjoe, dis moeilik en voor ek my kan kry, is alles weer woes en onderstebo.
Op ons eie kry ons dit nie reg nie. Ons het nog baie om te leer. Ons het nog baie om te gee. Ons moet nog baie opoffer en ja, ook ly. Daarvoor is God se Gees daar om ons met die geduldsteen te help.
Mag geduld al hoe meer deel raak van ons geloofshuisie.
Teks
2 Tim 3:10-13
Om oor na te dink
Hoe kort is jou draad?
Hoe reguit staan jou geloofshuisie as gevolg van geduld?
Hoe moet jy anders maak?
Gebed
Vader, ek besef maar net weer dat ek dit nie regkry nie. Ek besef ek het U Heilige Gees nodig om my hiermee te help. Ek weet nie hoe om te ly vir ander nie. Ek besef ek is te veel die middelpunt van my eie lewe. Gee asseblief vir my wysheid en krag. Amen.