God se Woord in vandag se woorde

Geen fly by night nie


Filippense 1:1-6

Daar is baie fly by nights daar buite. Baie ouens wat met ’n splinternuwe plan na vore kom en dan baie mense oortuig om saam met hulle in die nuwe plan te glo. Sommige van hulle is so goed om ander daarin te laat glo, dat hulle bereid is om ’n groot stuk van hulle swaarverdiende geldjies in die nuwe storie te belê.

Maar ai, een oggend as die mense hulle oë uitvee en wil kyk hoe ver die nuwe droom is, is die skuur waar die nuwe drome gebou word leeg, geen sien van die blikkantien nie en natuurlik ook geen sig van die geld, droom of planne nie. Soos hulle die nag ingevlieg het, het hulle ook weer in die nag weggevlieg, aldus die fly by nights.

’n Mens moet so keer vir jou wickets. Eintlik raak ’n mens later so versigtig dat jy bang is om na enige iemand te luister, want is dit nou weer iemand wat net ’n solovlug gaan maak, of is dit nou die real deal? En ongelukkig is dit deel van hoe ons stories daar buite loop. Keer vir ’n vale en hoop vir die beste.

En op ’n manier pas ons hierdie manier van leef ook toe in ons Christenskap. Ons keer vir al wat dit werd is en hoop ons is besig om teen die regte leer op te klim. Ons hoop dat as ons eendag doodgaan ons nie met ’n moewiese surprise sal wakker word nie. Wees maar eerlik met jouself. Soms kom daar tye wanneer jy wonder of God en Jesus nie ook maar net fly by nights was nie. Sê nou maar net…

Gelukkig kan ons vir mekaar sê dat dit nie waar is nie. God en Jesus is vir seker nie fly by nights nie. Na amper 2 000 jaar is hulle nog steeds hier. 6Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees.

Die goeie werk wat Jesus begin het, die genade wat Hy oor ons uitgestort het, dat Hy vir ons sondes gesterf het en al die goeie werke sal nie ophou nie. God het nie maar net een maal hier verbygekom en ons toe aan onsself oorgelaat nie. Nee, God is vandag nog hier en stort sy genade oor ons uit. God is vandag nog by ons betrokke en deur sy Gees werk Hy in en deur ons.

En God sal die werk aanhou doen, Hy sal betrokke bly tot by die einde van ons lewe of totdat Jesus weer kom. Dis die belofte wat jy styf in jou hart kan ronddra. Al raas die wêreld daar buite en al ruk die wêreld jou soms van jou geloofspoor af, kan jy rustig terugklim en met sekerheid weet: God is besig en by jou, al voel dit soms so ver.

Ek fluit saggies die volgende lied en die woorde spring voor my op:
Voel jy soms of die Here te vér is?

Twyfel jy soms aan God se bestaan?

Jy moet glo dat die Heer met jou saamloop,

dat sy Gees oral met jou sal gaan.

Jesus sê Hy kom weer,

Hy kom uit die hemel neer,

met basuin en geskal

kom Hy al sy mense haal.

Deur sy Woord weet ons Jesus gaan terugkeer

na die wêreld met alles daarin…

God en Jesus was geen fly by nights nie. Weet dit! Glo dit!

Om oor na te dink

Twyfel jy soms?

Is jou geloof genoeg?

Glo jy dat God nog betrokke is by jou?

Gebed

Here, ek het die bevestiging so nodig gehad, want ja, daar kom tye wanneer ek wonder waar U is. Here, ek is eerlik as ek sê dat ek nie aldag weet waarheen ek op pad is nie en of U nog saam met my stap nie. Dankie vir die bevestiging dat U my nooit sal los nie. Help my om dit ten volle te glo en ook so te lewe. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek