Geen vervaldatum meer nie
Vooruitsigte van dit wat in die toekoms lê, kan nogal my gedrag beïnvloed. As die vakansie nader kom, kry ek sommer ekstra energie om die laaste werksverpligtinge af te handel, want daar is mos ’n beloning wat wag – ’n heerlike tyd van rus.
As daar nie eintlik iets in die toekoms is nie, as die horison maar net so plat bly, is dit moeilik vir mense om hulself te motiveer. Sulke mense ploeter net aan en hulle energievlakke bly laag. En ek verstaan dit. Wat het hulle nou om na uit te sien? Wat is daar om hulle te motiveer? Niks nie – en daarom ploeter hulle dag in en dag uit in die rondte.
Ek vermoed dat baie mense wat tydens die dae van die Ou Testament geleef het, nie veel van ’n toekomsvisie gehad het nie. Die wet het hulle so vasgedruk dat hulle geweet het dat die kans op vryheid nie baie was nie.
My voete sou ook maar woes gesleep het as ek geweet het daar is ’n vervaldatum vir my gees…
Dankie tog vir Jesus! Dankie tog dat Hy die vervaldatum van ons elkeen se gees verwyder het. Ons kan nou lewe met ’n groot verwagting na ’n wonderlike ewige lewe hierna:
20… Uit die hemel verwag ons ons Here, Jesus Christus. Hy gaan ons swak menslike liggaam verander. 21Hy gaan ons liggaam nuut maak soos sy liggaam is na sy opstanding, verhewe en heerlik. Hy sal dit doen omdat Hy baie sterk is, want sy krag oortref alle ander krag. Wat Hy wil, dit kan Hy doen.
Sjoe, watter goeie nuus is dit nie. Hy wil dit doen. Hy kan dit doen. Hy kan ons ou aardse liggame wat ’n vervaldatum het weer nuut maak. Jesus is so almagtig dat Hy ons aardse liggame wat van stof gemaak is en wat weer gaan terugkeer na stof kan herskep, kan nuut maak sodat ons liggame net so verheerlik is soos syne.
Onthou, Jesus is ons broer en ons kry dieselfde voordele as Hy. Een daarvan is dat ons toegerus gaan word met ’n nuwe liggaam wat nie ’n vervaldatum gaan hê nie. Dit is voorwaar wonderlike nuus.
Nou wonder ek of die opgewondenheid oor die nuwe lywe ons gedrag hier op aarde beïnvloed. Is daar ’n gegons oor die bonus wat ons hierna gaan ontvang? Kom daar spesiale energie los as ek dink aan die bonus wat ek gaan erf? Probeer ons ’n gehoorsame lewe lei omdat ons aangevuur word deur die prentjie van die nuwe ek hierna?
Ek moet erken dat ek dit nie altyd regkry nie en ek weet hoekom. Ek laat toe dat die omstandighede hier om my my prentjie van die lewe hierna steel. En dis seker menslik om beïnvloed te word deur ons land se mense wat so mors, drome wat aan skerwe lê, seer, pyn en al die ander energiestelers.
Dalk moet ons bewustelik elke dag ons daaraan herinner dat ons vervaldatum verwyder is en dat ons ’n nuwe liggaam gaan kry. Waar ons nou is, is tydelik. Life begins after death. Laat hierdie wete vir ons nuwe energie gee. Kom ons storm met die hoop energie die lewe daar buite in en gaan maak ’n verskil orals waar ons gaan!
Om oor na te dink
Wat steel jou energie?
Gee die lewe hierna vir jou energie?
Wat kan jy anders doen?
Gebed
Jesus, ek moet bieg dat ek te min energie tap uit ons toekoms. U het dit vir ons moontlik gemaak om eendag toegerus te word met ’n verheerlikte liggaam, net soos U s’n. Sjoe, watter wonderlike geskenk wag daar nie op ons almal nie? Laat die wete hiervan ons motiveer. Mag dit ons help om vandag hier op aarde werklik ’n verskil te maak. Amen.