Geld vir jou arbeid
’n Vriend vertel my van die groot projekte waarmee sy kinders besig is. Hy vertel ook van die uitdagings wat aan die jong manne se deure klop. Die afgelope twee maande hou ’n groot maatskappy ’n hoop geld wat hulle toekom sommer net terug.
Ek kry ’n kol op my maag, want ek onthou nog uit my dae in die besigheidswêreld hoe groter besighede die kleiner besighede as banke gebruik het en, sonder om rente te betaal, geld sonder toestemming “leen”. Só het baie besighede al gevou.
Toe my vriend omdraai om te loop, vra hy dat ons tog vir sy kinders moet bid en hy las aan: “Ek weet God is by ons en sal ons help. Ek weet nie waar dit staan nie, maar die Bybel sê mos die arbeider is sy loon werd.”
En wonder bo wonder is dit die teks waarby ek die volgende oggend stilraak: … want die Skrif sê: “Jy mag nie ‘n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.” Of soos dit in die Boodskap staan: 18In die Skrif staan daar mos: “Jy moenie die bees se bek toebind wat besig is om jou met jou koringoes te help nie,” en: “Iemand wat werk, mag ook geld kry vir die werk wat hy doen.”
Hoe vêr gaan jy kom met ’n os wat jou lande ploeg, maar jy gee hom niks om te eet nie? Na die tweede dag se werk sal sy petrol op wees en jou lande sal ongeploeg bly. As ’n dier vir jou werk, moet jy hom goed versorg.
Hoeveel te meer moet ons nie die mense wat vir ons werk, goed versorg nie! As jou werknemers hulle kant bring, moet jy ook jou kant bring en hulle dubbeld en dwars daarvoor besoldig. So baie mense soek na ’n volgende werk omdat hulle nie ordentlik vergoed word nie. Wanneer hulle dan ’n beter aanbod ontvang, wil die baas ewe skielik met ’n teenaanbod kom.
Ek sê altyd aan die ouens om nie die aanbod te aanvaar nie, want vir hoeveel jaar het die baas jou te min betaal en hoe lank gaan dit neem voordat hy jou weer onder jou waarde betaal?
Vergoed mense vir wat hulle werd is en meer.
My vrou was maar aan die swaar kant wat huishulpe betref. Seker omdat haar standaarde so hoog is. Toe kry ons vir Precious uit Afrika en ja, sy is presies dit vir ons, precious. Dit is nou ons verantwoordelikheid om aan haar ’n markverwante salaris te betaal. Sy moet aan haar sak kan voel dat ons haar waardeer en al haar harde werk raaksien.
Hierdie gedeelte in 1 Timoteus gaan ook oor die leiers in die kerk. Die vorige vers sê juis: 17Die gemeente moet vir die leiers in die gemeente wat mooi na die sake van die gemeente kyk behoorlik dankie sê, veral as hulle vir ander van die Here vertel en hulle help om al hoe meer van God se dinge te verstaan. Hulle moet hulle selfs betaal. Die leiers is dus ook geregtig om vergoed te word vir die werk wat hulle doen.
Laat ons almal hard werk, sodat die kool die sous werd is. Laat ons base plekke soek om ons nóg meer te vergoed. En as hulle dit nié doen nie, kom op vir jou regte sodat jy eerlik vir jou arbeid besoldig word.
As jy iemand in jou diens het wat hulle werk goed doen, moenie later spyt wees as hulle groener weivelde gaan soek nie. Maak dit vir hulle só lekker by jou dat hulle altyd met ’n lied in hulle hart vir jou sal werk.
Teks
1 Timoteus 5:17-22
Om oor na te dink
Kry jy wat jy werd is?
Betaal jy aan jou werknemers wat hulle werd is?
Moet jy iewers ’n aanpassing maak?
Gebed
Vader, dankie vir die bevestiging dat ek ook geregtig is om te verdien wat ek werd is. Help my om altyd my beste te gee. Help my om ook vir dié wat vir my werk, bo verwagting te vergoed. Amen.