God se Woord in vandag se woorde

Geloof en liefde in ’n hopelose wêreld


Ek lees die vers oor en oor en verstaan nie veel nie: 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. (1983-vertaling) Ek neem later my pen en skryf dit op ’n papier neer.

Stadig begin die prentjie op my papier sin maak.

Die vers sê dat die fondasie van geloof en liefde hoop is. Dit wat ons energie gee, dit wat ons motiveer, dit wat ons aanvuur om te glo en lief te hê is hoop. Ons kan dus nie regtig liefhê en glo sonder dat hoop ons fondasie is nie.

As ek so rondom my kyk en ’n wêreld sien wat uitmekaar val, waar bitter min liefde sigbaar is en liefdeloosheid seëvier, gaan die lig helder op: Daar is geen fondasie van hoop nie.

Ons almal, ek, jy en die hele mensdom, het hoop nodig. Sonder hoop is ons almal hopeloos. Ja, dis die prentjie om ons: hoop-e-loos, want hoop is by die agterdeur uitgeskuif.

Jy sien, ons het die hoop op hemelse dinge nie net by die agterdeur uitgeskuif nie, maar die voordeur oopgemaak vir hoop op wêreldse dinge. Ag, ek hoop ek kry ’n beter kar of huis, of ’n beter regering, of ’n beter eggenoot of wat ook al.

Ongelukkig is die fondasie van die wêreldse hoop te pap en daar kan niks goeds van kom nie. Dit motiveer ’n mens glad nie om te glo en liefde uit te leef nie. Inteendeel – dis eintlik net selfsugtig – met die gevolg dat die wêreld lyk soos wat dit nou lyk.

En wat is die hoop? Titus 3 het die antwoord: 13Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom. Ons kan nie meer wag dat dit moet aanbreek nie!

Ons hoop is gerig op die dag waarop ons die aardse lewe vir die ewige lewe verruil. Dan ontmoet ons ons Verlosser. Dan raak ons ontslae van die sukkelende mense-lyf en ons gaan die ewigheid tegemoed waar dit fees op fees op fees is.

Ja, dis wat my opgewonde maak! Dit laat my sing, ten spyte van die swaar van nou. Dit motiveer my selfs om in donker tye plekke te soek waar ek liefde kan uitleef. Maar meer nog, tussen al die ongelowigheid en twyfel kan en wil ek weer glo.

Ons sit ons hele wese in die hier en die nou. Dis verstaanbaar, want dit is waar ons nou leef. Tog is dit maar ’n krieseltjie teenoor die lewe wat hierna kom, ’n lewe sonder ’n vervaldatum. Kom ons hoop weer op die lewe hierna. Kom ons maak moeite om ons fondasie van hoop neer te lê, want dan sal geloof en liefde sommer vanself kom.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:1-8

Om oor na te dink

Leef jy liefde uit?

Glo jy?

Hoe lyk jou hoop?

Gebed

Here, Here, Here. Hoe groot is U om vir ons hoop te gee. Help ons om op die toekoms te hoop en nie vas te kyk na die dinge hier op aarde nie. Amen

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek