God se Woord in vandag se woorde

Geloof in God en Sy planne vir jou


By die braambos het Moses homself in God vasgeloop. God het hom kom roep om Sy volk uit slawerny te lei. Moses het nie gedink dit sit in sy broek nie en het ’n paar verskonings probeer om uit die ene te kom.

“U weet mos, Here, ek het hierdie een probleempie. Ek hakkel en ek vermoed ’n mens het ’n goeie onderhandelaar nodig om so ’n groot taak deur te voer. Ek het mos daar in die paleis grootgeword. Ek ken die farao persoonlik. Hy gaan nie die volk sommerso laat trek nie!”

Toe sy staf egter in ’n slang verander, weet hy hier is nie omdraaikans nie en hy pak sy roeping met ’n sak vol geloof aan.

Soos Moses voorspel het, is die farao taai. Selfs die hoop plae laat hom nie van plan verander nie. Maar Moses hou nie op om met sy sukkelende mond, saam met God, die farao se kop te draai nie.

Jy sien, as ’n mens so ’n ontmoeting met die lewendige God gehad het, kan jy maar wal gooi, maar jou geloof in God en dat Sy wil op die ou end sal seëvier, laat jou aanhou en uithou en weer probeer.

Selfs toe Moses die inligting ontvang dat al die eersgebore seuntjies een nag gaan sterf, het sy oë nie geknip nie. Hy het nie gewonder of dit waar is en of dit ’n wolhaarstorie is nie.

28Hy het vir die Israeliete gesê om die Paasfees te vier en bloed aan hulle deure te smeer, want hy het die Here vertrou. Hy het geweet dat die oudste kinders van Israel nie daardie nag sou doodgaan wanneer al die ander oudste kinders in Egipte doodgaan nie.

Onthou, daar was nie ’n soortgelyke storie in die verlede waarop hy kon terugval nie. Daar was nie ’n manual wat hy kon gaan lees om te sien hoe hy moet maak nie. Hy het net geloof gehad. Geloof in God wat Hom geroep het. Geloof in die roeping wat God vir hom uitgesit het. Hy het geglo in die prentjie van God wat Sy volk uit slawerny wil red en nie toegelaat dat enige obstruksie in die pad hom keer of sy geloof steel nie.

So het God vir ons elkeen ’n prentjie. God het vir ons elkeen ’n spesifieke plan hier op aarde. Ons is nie toevallig hier nie. Nog voor ons ouers van ons ’n idee gehad het, het God klaar die planne vir ons lewe in plek gehad.

Glo jy dit? Is jou geloof dik genoeg om te glo dat die Hemelse Vader, soos wat Hy vir Moses ’n plan gehad het, ook vir jou een het? Glo jy in God, dat God vandag nog wonderwerke kan doen? Glo jy dat God dit deur jou kan en wil doen?

Sjoe, dis nogal baie vrae, maar soms moet ’n mens ‘n bietjie die hok skud. Soms moet ’n mens in die resies van lewe eers tot stilstand kom om te kyk waarheen ons op pad is en of dit in die rigting van God se plan met ons lewe is.

Miskien moet jy nou eers net jou geloof in God bevestig en onderstreep en jou planne in Sy hande gee en vra dat Hy jou sal help om Sy planne in jou lewe waar te maak. Daarvoor het jy ’n hoop geloof nodig. Mag die Gees dit vir jou gee!

Teks
Hebreërs 11:20-31

Om oor na te dink
Glo jy in God?
Glo jy dat God ’n plan vir jou lewe het?
Hoe vorder die plan?

Gebed
Vader, ek glo in U, anders sou ek nie nou met U gepraat het nie. Ek glo dat U vir elke mens op aarde ’n plan het. Ek is net nie lekker seker oor my plan nie. Help my om by U plan vir my lewe uit te kom en dit netjies uit te voer. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek