God se Woord in vandag se woorde

Geloof is…


Vir ’n kar om te werk, het dit ’n enjin nodig. Sonder ’n enjin kan ’n kar nie self van punt A na punt B ry nie. So ’n voertuig is vir die mens nutteloos. Eintlik is ’n kar sonder ’n enjin net ’n hoop yster en kan dit nie regtig ’n kar genoem word nie.

Om ’n Christen te wees, het jy geloof nodig. Geloof is die belangrikste eienskap wat ’n mens benodig om ’n Christen te wees, want daarsonder kan jy nie ’n Christen genoem word nie. Geloof maak vir die mens ’n hele nuwe wêreld oop.

Maar wat is geloof? Hier is die beste en eenvoudigste definisie van geloof: 1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (1983-vertaling)

Geloof is om met alles in ons vas te hou aan die feit dat God Sy beloftes waar sal maak. Al het ons die dinge nog nie gesien nie, vertrou ons, nee, eintlik sterker, wéét ons vir seker dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het.

Opgewonde kan ons nie wag vir ons lewe om klaar te maak hier op aarde nie, want God wag daar vir ons in die hemel. Al kan ek nie my bed in die hemel picture nie, weet ek vir seker dat dit reeds opgemaak is. Net vir my.

Geloof is die voertuig wat my deur die wêreld se swaar dra. Dit neem my deur die krisis en laat my vasbyt, tot by die volgende seisoen, waar dit dalk makliker sal gaan.

Juis omdat ek geloof het, sien ek anders, leef ek anders en is daar ’n wip in my stap. As ek in die lewe wil vasval en in sak en as wil gaan sit, is dit geloof wat my ’n stootjie gee om weer voort te beur.

Ten alle koste moet ek my geloof oppas, want ons geloof kan so maklik gesteel word. Van alle rigtings kom ons geloof in die spervuur. Die wêreld lag kliphard vir ons wat in God glo en sê ons is mal.

Baie probeer deur die wetenskap bewys dat dit waarin ons glo, nie bestaan nie. As ons ons ore aan die mense gaan uitleen, kan hulle twyfel by ons laat groei en dis juis twyfel wat ons geloof stukkie vir stukkie by ons steel.

Kom ons wees eerlik met mekaar en sê dat dit nie altyd maklik is om ’n mens se geloof in een stuk te hou nie. Veral as swaarkry ons in ’n hoek vasdruk en ons smeek vir uitkoms en nie eintlik ’n reaksie kry nie, wil ’n mens mos begin wonder.

Tog is dit dan juis hier waar ons onwrikbaar moet staan en bly glo dan God se beloftes waar sal word. Dalk nie nou nie, maar vir seker later. Al kan ons dit nie nou sien nie, weet ons die waarheid sal een of ander tyd aan ons deur kom klop.

Met my geloof in my God is ek seker dat dit waarop ek hoop, waar sal word, al kan ek dit nie nou sien nie en dit is die waarheid. Glo ek!

Teks
Hebreërs 11:1-6

Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Hoe sterk is jou geloof?
Moet jy ontslae raak van twyfel?

Gebed
Vader, ek sê dit weer: Ek glo in U. Al kan ek U nie sien, glo ek dat U elke belofte waar sal maak in my lewe. Hieraan hou ek met alles in my vas. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek