Geloof is …
Ons moet ons bak skoonkry deur eerstens die verkeerde dade daar uit te haal. Maar nou moet ons die bak mooi en blink gepoets kry sodat dit aantreklik lyk om gebruik te word. Hier is ’n hele paar voorstelle om dit reg te kry: 22 … streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.
Die tweede voorstel om te help om ons bak gereed te kry is om geloof na te streef. Maar wat is geloof? Geloof is om te glo dat God Sy beloftes waar sal maak. Geloof is ’n waarborg dat Hy alles sal doen soos Hy belowe het.
Dis soos my bakkie wat ook ’n waarborg het. Toe ek die bakkie gekoop het, het die verkoopsman vir my al die voordele verduidelik. Een van die voordele is dat daar ’n waarborg by is.
Eendag kom ek agter daar is ’n geraas soos ’n kriek êrens in die enjin. Later besef ek dat as ek die koppelaar so effe intrap, is die kriek weg. Ek neem die bakkie in. Die werktuigkundige fluit so ’n lang fluit. My vriend sê mos as werktuigkundiges vir die eerste keer gaan vir opleiding, spandeer hulle die eerste 3 dae net daarin om te leer fluit, maar dit eers daar gelaat.
Die manne praat van geld, baie geld, want die ratkas moet uit en dalk sal die koppelaar en plate of iets ook vervang moet word.
Dis toe net mooi daardie tyd wat ek onthou van die verkoopsman se praatjies oor die waarborg en wraggies waar, die fabriek tel ’n groot gedeelte van die koste op. Ek was baie verbaas en baie dankbaar.
En dis eintlik hoe geloof ook werk. Ons moet met alles in ons vashou aan God se beloftes. Ons moet glo dat Hy werklik vir ons lief is. Dis eintlik maklik om dit te glo, want net deurdat Hy vir Jesus aan die kruis laat sterf het om te betaal vir die sondes wat ons doen en gaan doen, is die grootste voorbeeld van hoe groot Sy liefde vir ons is.
Geloof raak moeiliker as die branders om ons hoog is en die winde woes waai. Dan is dit soms moeilik om te bly glo dat God vir ons op ’n manier gaan deurkom. Dis asof dié winde ons geloof sommer ook by die deur uitwaai.
Maar dis juis hier waar ons moet vashou aan ons geloof. Ons moet glo dat God vir ons sal deurkom. Ons moet met alles in ons vashou aan elke liewe belofte wat God vir ons in Sy Woord gee en weet dat Hy nie teen Sy woord sal teruggaan nie. Dit is juis die toets. Daar waar dit nie altyd so lekker is nie, moet ons geloof juis ons vashouplek en fondament wees.
Om ’n bak te wees wat God kan gebruik, moet ons geloof vasgeanker wees in God. Kyk maar, die winde kom al te gereeld hul opwagting maak. Sonder dat ons dit verwag, steek die weer op en voel dit vir ons of ons bootjie gaan sink.
Mag ons dan juis vir ander ’n voorbeeld wees en met ons monde vertel van ons geloof in God. Juis dan sal God ons gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.
Mag God ons help om te bly glo!
Teks
2 Tim 2:20-26
Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Kom God Sy beloftes na?
Glo jy Hom?
Gebed
Here, ek weet ek moet vashou aan my geloof. Ek moet glo dat U al U beloftes sal nakom, ook vir my. Maar ai, tog so gou glip my geloof en probeer ek aan verkeerde dinge vashou. Help my om vas te staan in my geloof. Amen.