God se Woord in vandag se woorde

Geluk in jou eie hande


Filippense 4:1-9

Elmo vertel hoe hy God se liefde ervaar:

DIE GROOTSTE VAN ALLE GESKENKE

Omdat God my liefhet, raak Hy nie ongeduldig met my nie.

Omdat God my liefhet, hou Hy ook nie boek van my oortredinge wat Hy vergeef het nie. Hy vergeet daarvan.

Omdat God my liefhet, sê Hy nooit daar is nie meer hoop vir my nie. Hy werk eerder geduldig met my en dissiplineer my op so ’n wyse dat dit vir my moeilik is om te begryp hoe diep Hy oor my besorg is.

Omdat God my liefhet, laat Hy my nooit in die steek nie al doen baie van my beste vriende dit.

Omdat God my liefhet, ondersteun Hy my wanneer ek ’n punt van wanhoop bereik – as ek myself sien soos ek regtig is – en dit dan vergelyk met sy geregtigheid, sy heiligheid, skoonheid en liefde.

Dit is in sulke oomblikke dat ek werklik kan glo dat God my liefhet. Ja, die grootste van alle geskenke, is God se volmaakte liefde.

4 Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees.

Wanneer ’n mens oorval word met die liefde van God, het dit ’n reaksie op jou. Elmo ervaar dit so:

·        Wanneer ‘n mens lag, is dit asof jy in jou binneste begin draf – jou geheime oefenprogram.

·        Jy het geen beheer oor die verlede nie, maar jy kan ’n taamlik gangbare hede verwoes deur jou oor die toekoms te verknies.

·        ’n Mens kan besluit hoe gelukkig jy wil wees.

·        Verryk die lewe van ander mense met alles tot jou beskikking en jou eie beker van vreugde sal gou-gou oorloop.

·        Die beste skoonheidskuur is ’n gelukkige hart en ’n vreugdevolle gees.

·        Hoop op die beste.  Wees voorbereid op die ergste en gaan alles glimlaggend tegemoet.

·        Lente is God se manier op elke jaar te sê: “Nog ’n keer!”

·        Lag gee smaak aan die lewe – soos sout oor ’n eier.

·        Genot is vlietend en kan binne sekondes verdwyn. Maar blywende vreugde kom van die Here en bly stroom deur jou hart soos ’n diep rivier.

·        Die rede waarop Christene so vol vreugde kan wees, is omdat Christus gister gesterf het, vandag leef en more weer kom.

’n Klomp waarhede wat ons deel moet maak van ons lewe, omdat ons aan Jesus behoort. Juis daarom het dit ’n effek op ons lewe.

Om oor na te dink

Hoeveel vreugde loop by jou uit?

Sukkel jy om te lag?

Hoe ervaar jy God in jou lewe?

Gebed

Here, hoe nodig het ek dit nie om te lag nie! Hoe vol is my lewe en tog soek ek na meer. Ek wil weer kliphard lag en vrede uit my laat stroom. Ek verbly my in U wat vir my sondes aan die kruis gesterf het. Dankie daarvoor! Laat die vreugde in my lewe oorborrel. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek