God se Woord in vandag se woorde

Gered uit die kloue van die dood


Mense hou nie daarvan as ons oor die duiwel praat nie. Dit is asof mense te bang is om oor die duiwel te praat. Bang is dat as ons oor hom praat ons ’n deur op ’n skrefie vir hom ooplos. Tog dink ek dit is baie belangrik dat ons presies sal weet wie en wat ons vyand is.

Ek onthou nog my army dae. Ons het vir ’n hele jaar opleiding gehad. Ons het elke deeltjie van ons geweer geken. Die kanon wat ek in die Ratel moes hanteer kon ek in ’n minuut of twee uitmekaar haal en gou weer inmekaar sit. Maar gedurende daardie jaar is ons ook baie goed vertel wie ons vyand is en wat hulle maniere van doen was. Ons was dus voorbereid en het geweet wat om te verwag.

Net so moet ons weet van die vyand wat vandag nog soos ’n brullende leeu hier tussen ons rondloop. Kyk maar net hoe lyk die slagveld hier om ons. Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: Dit lyk nie goed nie. Verhoudings lê aan skerwe, vrede en lag is net nie meer te sien nie, haat is die norm van die dag, selfsug en net nog ’n bietjie meer hê is wat baie najaag en so kan ons aangaan. Dis die vyand wat op ’n slinkse manier kom en sonder dat ons dit besef, help hy ons van die wal tot binne-in die sloot met dom besluite.

Daar kom ’n tyd in elkeen van ons se lewe waar ons agter die duiwel aanloop en waar ons baie goed met die mense van Efese kan identifiseer: 2Julle was eers soos dooie mense as dit by God en sy dinge gekom het. Kyk net hoe lelik het julle geleef en hoeveel dinge het julle gedoen waarvan God net mooi niks gehou het nie. Dit was toe julle al agter die duiwel, die leier van die onsigbare geeste, aangeloop en presies gedoen het wat hy van julle gevra het. Daardie selfde ou duiwel is nog steeds bedrywig onder die mense wat nie luister na wat God vra nie.

Jip, ek sien dit vandag nog om my raak. Ek sien die werke van die bose. Ja, daar kom tye wanneer ek kliphard saam met Paulus uitroep: Ek wil so graag die goeie doen, maar as ek my weer kom kry, lê ek in die modder saam met ander wat ook verkeerde keuses maak. En weereens pas ek presies in die prentjie van die mense van Efese: 3Dit is eintlik maar die storie van ons almal se lewens. Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. As iets sonde was, was ons daar om dit te doen. Ons het dieselfde menslike geaardheid as al die ander gehad: ons het net in die sonde belanggestel. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God.

Sonde lei (eintlik wil ek dit met ’n lang y skryf, want dit is juis die gevolg van sonde – swaar sleep!) tot die dood. Daar is geen lig op die horison nie. Net swaar dra met net een prys. Die dood. Dit is die realiteit.

Maar gelukkig het ons ’n God wat oorloop van liefde: 4Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee.

God gee nie moed op nie. God gooi nie in ’n stadium sy hande in die lug en sê: “Nou kan Ek nie meer nie. Nou het ek die mens genoeg kans gegee” nie. God los ons nie oor aan onsself nie. Nee, God dank! Hoor net hoe mooi: Toe ons geleef het asof God nie bestaan nie, toe ons Hom nog nie eens raakgesien het nie, het Hy van sy kant eerste sy hand na ons uitgesteek en ons uit die modder kom red.

Wow! Dit klink eintlik soos ’n feëverhaal. Maar dis nie net ’n wortel voor die neus nie. Hierdie is die reine waarheid. God se liefde vir ons is so groot dat Hy ons nooit sal los nie.

Loop vandag en weet dat daar iemand is wat jou van die pad af gaan probeer lok. Wees gewaarsku en wees paraat. Maar weet ook dat daar ’n God is wat jou so liefhet, dat Hy niks sal ontsien om jou te beskerm nie. Weet dat sy liefde vir jou eenvoudig té groot is om jou aan jouself oor te laat. Jy het ’n nuwe lewe in Christus ontvang. Gaan leef dit uit!

Teks

Efesiërs 2:1-10

Om oor na te dink

Ken jy die vyand?

Is jy gereed om teen hom op te staan?

Leef jy ’n nuwe lewe of ploeter jy nog in die óú lewe rond?

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat U nie daar gebly het nie, maar aan ’n kruis gesterf het om my te red. Te red van die bose, maar ook te red van myself. Help my, Here, om te leef soos iemand wat ’n nuwe identiteit gekry het. Help my om ander te help en vir hulle te wys hoe leef mense wat uit die kloue van die dood gered is. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek