Geskille, verskille en so…
Ons almal is verskillend gemaak. Ons lyk anders, doen anders, praat anders en ons sien dinge verskillend. Vra vir vyf mense hulle opinie oor ’n ding. Die kans is goed dat jy vyf verskillende antwoorde gaan kry. Dit is hoe ons aanmekaargesit is.
In die Bybelse tyd was dit ook nie anders nie. Twee vroueleiers, Euodia en Sintige, het van mekaar verskil en toe dit ook by Paulus se ore uitgekom het, was dit nie ’n ligtelike verskil nie. 2 Euodia en Sintige, ek vra julle baie mooi: los julle geskille op. Julle behoort mos altwee aan die Here.
Paulus gee ’n opdrag vir die twee vrouens om aan die verskille tussen hulle te werk en ’n middeweg te vind waarby albei kan uitkom. Dit is vir hom so belangrik dat daar ’n oplossing gevind moet word, want indien hulle dit nie regkry nie is dit tot nadeel van die Koninkryk van God. Gou raak ’n klein geskil ’n groot geveg en daar is geen wenners nie.
Dit is so belangrik om seker te maak dat daar nie goeters lê en broei nie. Of dit nou in die huwelik is of verhoudings by die kerk of werk, ons moenie toelaat dat die geskil broei nie, want voor ons ons kom kry, is dit so groot dat dit onhanteerbaar is. My vriend sê altyd: Problems buried alive, never die. Dit raak later soos ou koeie en kort-kort word hulle uit die slote gegrawe om net nog meer chaos te saai.
En dit is so. Probleme en geskille verdamp nie. Dit raak nie weg nie. Inteendeel – dit raak gewoonlik groter en die skade wat dit aanrig sommer gou katastrofies. En kom ons wees nou maar eerlik – dit gebeur in die beste van families, soos Steffie vertel:
Jy sien, ek het vanmôre met die beste hart in die wêreld opgestaan en toe ek 40 minute later in my seun se kamer kom en hy is steeds nie aangetrek nie, toe KIES ek om dit te verloor in plaas van om asem te haal en net kalm te bly.
Needless to say het die res van die oggend al swetsende en skellend verbygegaan. Ek was op die ou end so omgeëllie dat ek nie eens woorde gehad het om te bid in die kar nie. (Ek en my twee kinders bid elke oggend in die kar op pad skool toe – it keeps me grounded)
Nou sit ek hier met my skaam gesig en ek voel soos ’n HOND, omdat ek vanmôre vir sekelstert so vatplek gegee het in my lewe dat ek nie eens kon bid vanoggend nie!
Klink dit bekend?
As ons nie die geskille tussen ons dadelik uit die weg ruim nie, kan daar ’n ligte oorlog uitbreek en die gevolge is nie bevorderlik vir enige iemand nie. Daarom moet ons luister na Paulus en met alles in ons probeer om die geskille op te los. Ons moet op dieselfde planeet kom. Die King James-vertaling vertaal die voorstel van Paulus soos volg: That they be of the same mind in the Lord.
En dit is presies wat ons moet doen. Ons moet Jesus die gemeenskaplike vertrekpunt maak. Jesus moet die belangrikste wees, want wanneer Hy die belangrikste is, die een waarom alles draai, raak al die ander dinge minder belangrik. Dan raak dit maklik om dit wat vir my belangrik is, eers op sy te stoot en ruimte te gee vir die ander een se manier van doen.
Om oor na te dink
Met wie sit jy vas?
Wat is die probleem?
Wat moet jy doen om dit op te los?
Gebed
Vader, ek weet dat ons van mekaar verskil. Ek weet dat ons nie aldag om dieselfde vuur sit nie. Help my om nie altyd my eie wil en manier van doen op ander af te dwing nie en dat ek sal help om ’n gemeenskaplike punt te kry waarop ons eerder kan konsentreer. Amen.