God se Woord in vandag se woorde

Gevorderde vaardighede aanleer


Ek lees ’n artikel van ene Palari wat verduidelik hoe lank dit neem om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Dit verskil natuurlik van persoon tot persoon. Om ’n basiese vaardigheid soos om byvoorbeeld ’n nuwe rekenaarprogram aan te leer, kan binne ’n paar dae of weke geskiet.  

Die aanleer van ’n moeilike vaardigheid soos om ’n nuwe taal aan te leer, neem maande, selfs jare. Om ’n gevorderde vaardigheid aan te leer, soos byvoorbeeld om ’n dokter te word, neem etlike jare.  

Om die vaardighede van ’n Christen aan te leer, val ek vermoedelik in die laaste kategorie van gevorderde vaardighede.  

Dit verskil seker ook van mens tot mens, maar as ek na my eie lewe kyk en sien hoe ek sukkel om as kind van God nuwe vaardighede aan te leer, is dit ’n lewenslange proses.  

Nêrens is daar ’n plek waar ’n mens opdaag en sê: “Aha, nou het ek gearriveer nie. My restourasieproses is nou uiteindelik verby nie.” 

Jy sien, toe ons Jesus as Verlosser aanvaar het en Sy Gees in ons harte ontvang het, het ons status onmiddellik verander. Van ongeredde, verlorene, van die pad af, na kind van God.  

Ongelukkig het ons manier van leef nie dadelik verander nie. Dis amper soos ’n voertuig waarvan die wielsporing uit is. Dit trek die heeltyd skeef en as ’n mens nie klou aan die stuurwiel nie, wil dit net van die pad af beur. 

Ons moet bewustelik anders begin leef. Ons moet nuwe vaardighede aanleer en vir die meeste mense is dit ’n lewenslange proses. In plaas daarvan dat ’n mens net aan jouself dink en die wêreld se lekkerte najaag, probeer jy doen wat vir God belangrik is. 

2Sy (’n kind van God) ingesteldheid in die lewe is anders. Hy hardloop nie die hele tyd agter sy eie neus aan en doen net wat vir hom as mens lekker is nie. Nee, al wat ’n Christen graag die res van sy lewe wil doen, is dit wat God – en nie mense nie – gelukkig sal maak. Kyk net hoe ’n groot deel van julle lewe het julle reeds gemors deur julle op te hou met die dinge van die mense wat God nie ken nie. 

Vir seker het ons al baie tyd gemors om agter die verkeerde dinge aan te hol. Te veel van ons tyd en energie het ons langs die pad verloor omdat ons fokus op verkeerde dinge was. Die wêreld het ons verblind en ons op verkeerde paaie gelok.  

Dit moet ons besef. Ons moet weet dat ons wielsporing sedert ons geboorte uit is wat veroorsaak dat ons maklik skeeftrek. Die wêreld gaan vir ons plastiekdrome op ’n skinkbord kom aandra. Dit is juis hier waar ons hard moet werk aan nuwe vaardighede. 

Ons moet nuwe vaardighede gaan aanleer en die Bybel is ’n goeie leermeester. Hier leer ons presies wat is God se wil vir ons lewe. Ons leer waar daar dinge is wat ons moet afkap en ons word gehelp om nuwe vaardighede aan te leer.  

Laat ons alle kragte insit en die gevorderde vaardighede aanleer, al neem dit ook lewenslank.  

Teks
1 Petrus 4:1-6 

Om oor na te dink
Waar trek jou wiele nog skeef?
Waar moet jy aandag gee aan nuwe gevorderde vaardighede?
Hoe moet jy te werk gaan om dit aan te leer? 

Gebed
Vader, ek besef dat ek nog baie skeeftrek en dat ek gevorderde vaardighede moet aanleer. Op my eie sal ek dit nie maak nie, maar met U krag, wel. Amen. 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek