God se Woord in vandag se woorde

Gevra om hande en voete te wees


20Liewe vriend, kyk mooi na alles wat jy gevra is om te doen.

Ek wonder of jy weet wat God van jou vra? Wat moet jy vir God doen? Ja, ons weet dat God vir ons elkeen gawes gegee het. Ons weet dat Hy ’n stukkie van dié gawe wil gebruik in Sy Koninkryk. Ons weet dat Hy vir my en jou wil gebruik as Sy hande en voete.

Ons weet ook dat Hy ons elkeen gegee het as geskenk vir die mense wat in die diep en donker slote van die wêreld lê. Ons weet al die goed. Maar weet ons regtig wat God van ons verwag in die dag wat voorlê? Is ons sensitief genoeg om te weet dat as God ons roep, ons presies sal weet wat om te doen en dit dan te doen?

Om eerlik te wees, ek weet nie of ek elke keer hoor en dan wegspring en begin doen nie. Nie dat dit elke keer ’n stem is wat hier uit die niks gehoor word en ek tot stilstand geruk word en dan stap vir stap instruksies kry nie. Nee, op ’n manier is dit ’n leefwyse waar die meeste van die goed sommer net so in die gewone gang van die lewe gebeur.

Tog kan ons so maklik ons tyd mors op ander goeters as wat God verwag. Ons word weggelok van God se dinge deur rond te drentel en tyd te mors. Dit is iets waarteen ons moet waak. Dalk is netnou te laat. Daarom sal dit goed wees as ons ’n paar plannetjies kan maak waar ons ’n verskil kan gaan maak.

Dit sal goed wees as jy tyd kan maak om by God te gaan sit en Hom te vra om mense en take in jou gedagtes te plaas sodat jy ook kan begin hoor waar Hy graag deur jou wil werk. Vra vir God om jou ook te help om oor te gaan in aksie.

Daarom, pasop om weggelok te word van God se wil vir jou lewe. Hier is die waarskuwing: Moenie jou tyd mors met die gepraat wat niks met God te doen het nie. Wees versigtig vir daardie klomp wat met hulle deurmekaar redenasies wil voorgee dat hulle so wetenskaplik en slim is. 20Party van die gemeentelede het agter hulle aangeloop. Só het hulle eintlik weggeloop van hulle vertroue in God.

Daar is mense wat glo dat jy nie vergifnis hoef te vra vir jou sonde nie. Jy hoef geen berou te hê vir jou sonde nie. Jesus het dit mos klaar vergewe. En die manne is baie ernstig oor wat hulle glo en wil elkeen om elke hoek en draai oorreed om ook soos hulle te glo. Dit vat baie tyd. Nee, eintlik mors hulle baie tyd, ook van die met wie hulle gesels oor dit wat hulle glo. Persoonlik glo ek 1 Johannes 1:9 wat sê as ek my sondes bely, is God getrou en regverdig om alles te vergewe.

En net hier trap ek alweer in die strik, want sien, ek het reeds ’n paragraaf se tyd gebruik om ’n storie te vertel van die klomp wat ons deurmekaar maak met redenasies. Op ’n manier neem dit ons verder van God af.

Los daarom die gestoei oor “ék glo dit en jy glo dat”. Vat eerder hande en doen wat God van ons verwag. So, hand aan hand, terwyl ons ’n verskil maak in God se Koninkryk, stap ons nader en nie verder van Hom af nie. Mag God ons tog beskerm én help om vir ’n slaggie iets prakties te doen!

En só met die stilraak, kom ons aan die einde van die eerste brief van Paulus aan Timoteus.

Teks
1 Timoteus 6:17-21

Om oor na te dink
Wie sit God in jou gedagtes?
Wat moet jy doen?
Waar mors jy onnodige tyd?

Gebed
Here, baie dankie vir die goeie raad in U Woord. Ek wil nie my tyd mors met sinnelose praatjies nie. Ek wil my tyd gebruik om dinge te doen wat U hart bly maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek