God se Woord in vandag se woorde

Glo in gebed


Filippense 1:19-26

Rienie skryf vir my oor hoe sy in gebed glo:

Gebed is ons kragtigste en enigste wapen teen die vyand maar daarby moet geloof gevoeg word. Wat help dit dat ons bid en nie glo dat ons Hemelse Vader luister nie?

Ek kan vandag getuig dat die Here gebede verhoor! Nie een maal nie, maar menige maal het ons die resultate gesien en aan ons lyf gevoel.

My vriendin se dogter het swanger geword en het vir haar eerste “scan” gegaan. Die dokters kon twee “sakkies” sien maar net een fetus. Hulle reken toe die tweede enetjie het nie ontwikkel nie. Twee weke later gaan hulle vir die tweede “scan” en jou waarlik daar is nou twee klein mensies op pad. Een basies twee weke “ouer” as die ander enetjie.

Hier in Desember is my vriendin se kleindogters toe gebore. Hulle was bietjie haastig want hulle moes eers middel Februarie hulle opwagting gemaak het. Die groter een van die tweetjies het so onder ’n kilo geweeg, maar haar sussie net 820 gram. Dit wou nie goed gaan met die klein poppie nie en sy het afgeval na net 735 gram. Ons het met ’n gebedsaksie vir hulle begin en kan nou getuig die Here het weereens geluister na die gebede van Sy kinders. Die groter enetjie is al ’n week by die huis en sus weeg al ’n hele kilo! Hoe groot is ons Vader se genade en liefde!

Gebed met geloof werk! Net nou en dan moet ons dalk onthou om dankie te sê ook!

Dis so ’n wonderlike verhaal van gebed wat werk. Ek glo ook in gebed. Ek en my vrou sit juis vanoggend in die bed en bid vir elkeen van die klomp dinge wat ons in God se Naam doen. So maklik verloor jy die hoofdoel en begin jy agter jouself aanhardloop.

Gebed hou ons in tune met God. Gebed help ons om styf teen die Heilige Gees te lewe, want ons weet op ons eie is ons te swak om voluit te hardloop. Soms is die lewe net te rof op sy eie en sal fetusse dit nie maak as God nie intree nie. Daarom moet ons bid.

Paulus glo dit ook: 19Ek weet dat julle vir my bid en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het. Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie.

Paulus glo in gebed. Paulus glo dat dit die manier is wat ons mense in lyn kom met God se Gees. Gebed is die moment waar ons en God se wêreld oor mekaar skuif en waar ons ’n kykie kry in God se prentjie vir ons, maar dis ook hier waar God ons hart sien en hoor. Waar hy ons hartklop vir die lewe ervaar en die begeertes van ons hart sien klop.

En tog is daar tye wat ons begeertes nie waar word nie. Tye wanneer ons versoeke net in die lug verdwyn. En dit verstaan ek nie. Ek verstaan nie hoe God die een baba wat eintlik dood moes wees laat groei, hoe hy die een se kanker met een vee uitvee en die ander verteer tot niks. Dit is ’n gedeelte van God waar antwoorde min is en geloof dik moet loop.

Die onbeantwoorde vrae (en gebede) laat my egter nie ophou bid nie. Ek bid nog verwoed, want ek glo dat gebed werk. Ek glo dat ek in die gebede God se hart hoor en dat ek dan begin anders bid. Anders met God se gebede en nie my eie versoeke, verwagtings en begeertes nie.

Dan sê ek saam met Paulus: Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie…

Om oor na te dink

Waarvoor bid jy?

Glo jy in gebed?

Hoor jy God se hart?

Gebed

Here, ek bid. Ek glo in gebed. Ek glo dat U net die beste vir u kinders wil hê. Ek weet ook dat ek soms net vir myself in die oog het as ek bid. Vergewe my. Leer my bid en help my om nie op te hou glo in gebed nie en dat dit op die ou end goed sal gaan met my. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek