God se Woord in vandag se woorde

Glo, luister, doen


Hoe dik loop jou geloof? Tot by watter plek sal jy loop in dit wat jy glo? Waar sal jou geloofspad ophou? Waar sal jy eerder ophou om te doen vir jou geloof en dink nou raas jou kop dalk?

Sê nou maar jy kry hier in jou kop ’n gedagte om ’n tuig te bou om jou en jou geliefdes ’n paar maande uit die aarde se atmosfeer te neem en eers weer terug te keer as die aardbewings klaar die hele mensdom verwoes het. Sal jy oorgaan tot die grootse taak wat jou finansieel gaan uitroei en natuurlik die groot gespot in menseheugenis oor jou laat kom?

Sien jy al die opskrifte: “Mal geestelike besig met ’n moderne ark. Waar dink hy gaan hy? Ha, ha! Sy kop raas.”?

Ek vermoed dis hoe Noag moes gevoel het. Daar op die droë aarde besig om ’n moewiese skip te bou, met geen water in sig nie. Die mense het hardop gelag en gewonder of al sy varkies nog op hok is. Waar sal die water vandaan kom of hoe gaan hy die swaar skip honderde kilometers tot by die water kry?

Net ’n paar jaar gelede, na ’n groot ondergrondse aardbewing, is ons elkeen se eie wêreldjie woes geskud om te sien hoe vinnig een groot brander bymekaargemaak word en ’n klomp groot geboue net eenvoudig platvee. Derduisende mense is vir ewig ontwortel, baie dood.

Om alles vandag op die aarde uit te wis, is nie meer so vêrgesog in ons gedagtes nie. Net ’n plaat of twee skuif diep onder die aarde en die aarde kan haarself uit haar wentelbaan druk en die gevolge kan katastrofies wees.

Nou klink die idee om ’n ruimtetuig te bou en vir ’n wyle in ’n wentelbaan te gaan draai, nie so verregaande nie. Die vraag is net of jou geloof sterk genoeg is om oor te gaan en te begin bou.

Noag se geloof was sterk genoeg.

7Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie.

Hy het drie dinge gedoen: geglo, geluister en gedoen. So eenvoudig soos dit. Hierdie is nie kernfisika nie. Hierdie is nie onmoontlik om te doen nie. Sit jou geld by jou mond. Jy sê mos jy is ’n kind van God. Jy glo mos dat Hy in beheer is.

Met hierdie sak vol geloof moet ons ons ore oophou om te hoor as God vir ons ’n opdrag het. En dan moet ons gaan doen. Ons moet ons hande en voete laat werk om daar ’n verskil te gaan maak waar ons woon, werk en speel.

En nee, ek het ’n sterk vermoede dat God nie van ons verwag om ’n tuig te gaan bou om in die hemelruim te gaan swerf nie. Ek vermoed Hy wil hê dat ons net daar waar ons nou is, moet begin om te glo, te luister en iets te doen.

Teks
Hebreërs 11:7

Om oor na te dink
Glo jy?
Hoor jy?
Doen jy?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat my geloof soms van die pad af is. Tog wil ek glo. Ek wil met alles in my glo, want ek wil U stem hoor, sodat ek kan doen. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek