God – ons windbreker
(Soos jy dalk agtergekom het, sukkel ons weer die afgelope tyd met ons e-pos stuurprogram. Ons vra om verskoning as jy dalk meer as een e-pos op ’n dag ontvang op ongereelde tye. Ons tegniese span werk hard om die fout uit te snuffel.)
Dit is goed om so nou en dan jou basis te ondersoek. Ons raak maklik deur die wêreld ingetrek en dan vergeet ons waar ons anker is. Ons vergeet wie ons is en tree dan soms anders op, amper asof ons iemand anders is. Maar voor ons ons kom kry, voel ons leeg en drentel ons in die wêreld rond.
Ons moet eerder gereeld gaan stilsit en kyk of ons nog vasgegroei is aan ons wortels. Ek onthou nog toe ek op die plaas gewoon en gewerk het, was daar ’n blok wingerd wat baie hoog was. Die plaasmanne het die blok “Die Kaap” genoem –jy kan die hele Skiereiland sien as jy daar bo staan. Dit was altyd vir my so snaaks as ek gevra het waar is die of daai en iemand antwoord: “Hy’s Kaap toe.”
Daar in die Kaap het die Suidoos gereeld woes gewaai. As die stokkies nog jonk is en die wind waai erg, gebeur dit soms dat die stok op die entplek afgedraai word. ’n Mens kom dit nie dadelik agter nie, maar later, wanneer jy deur die blok stap, sien jy uit die dooie blare baie mooi watter stokke deur die wind afgedraai is.
Dis logies, as die stok nie meer wortels het nie, vrek dit.
Ons ook. As ons ons los maak van ons wortels, gaan ons ook dood. Daarom is dit so belangrik dat ons gedurig sal seker maak dat ons nog goed vas is aan ons wortels. Onthou, dis by die wortels waar ons lewensbelangrike water opneem. Dis hier waar ons die kos kry om aan die lewe te bly.
Op wie plaas ons ons vertroue? In ons besigheid, ons werk? Vertrou ons op die een wat die knoppie druk om ons salaris in ons bank oor te betaal? Vertrou ons op ons debiteure? Plaas ons ons vertroue in ’n kontrak of dalk in ons bank?
As ons vertroue hierop rus, gaan ons gou deur die winde van die lewe van ons wortels afgewaai word en sal ons nie die lewe kan maak nie.
Ons met leer by Paulus: 12…ek weet mos op wie ek my vertroue stel. Paulus weet wat hy moet doen. Paulus kan die draaiballe wat die lewe vir hom gooi vir sesse slaan, want sy wortels is diep geanker in God. Maak nie saak hoe woes dit met hom gaan nie. Maak nie saak hoe sleg dit in die tronk is nie. Maak nie saak hoe mislik die onsekerheid oor môre is nie. Hy is tevrede. Hy het vrede.
Sy wortels is diep ingegrou in sy vertroue dat God by hom is. Hy weet God sal hom nie alleen los nie. Die winde van verwoesting kan om hom waai, maar hy bly vas geanker in God. Dis nie omdat hy so braaf of goed is nie, maar omdat God so groot en sterk en magtig is.
Kyk né, dis nie so maklik daar buite in die wêreld nie. Die winde waai woes. Dit lyk nie meer soos gister nie en môre lyk ook nou nie juis aan die rooskleurige kant nie. Ons moed sak in ons skoene. Waar gaan dit eindig, wonder ons? Hoe gaan ons dit maak? Ons sit met bekommernis en vermoed dat die winde daar buite eenvoudig net te sterk waai vir ons om te oorleef.
Dis tyd dat ons weer ons wortels besoek. Ons moet seker maak dat ons nog styf geanker is in God. God is die enigste een wat ons werklik kan vertrou, want Hy sal ons nooit verlaat nie. Hy neem altyd ons hand en dra ons deur die woeste tye. Hy is die een by wie ons kan skuil. Hy is ons windbreker en help ons om staande te bly.
Daarom, bou jou vertroue op God. Anker styf vas in Hom. Hy sal ons staande hou teen die woeste winde daar buite.
Teks
2 Timoteus 1:8-12
Om oor na te dink
Is jou wortels geanker?
In wie is jy geanker?
Is jy stabiel genoeg?
Gebed
Vader, U is my anker. Op U vertrou ek. Sonder U maak ek dit nie. Die winde is eenvoudig te woes. Help my om nog dieper te groei en U nog meer deel te maak van my lewe. Amen.