God se Woord in vandag se woorde

God se deal vir ons


Filippense 1:1-2

Prinse William en Harry het nie ’n keuse gehad om deel te wees van die koninklike gesin nie. Hulle is in so ’n koninklike gesin ingebore. Omdat hulle in die gesin gebore is, ontvang hulle daarmee saam ’n klomp voordele. Dis al te lekker om sommer net so ’n hoop geskenke te ontvang, sonder dat hulle daarvoor gewerk het.

Wanneer dit by ons en God kom, is dit omtrent dieselfde. Ons broer, Jesus, se kruisdood het dit vir ons moontlik gemaak om ook koninklikes te wees. Sonder dat ons self daarvoor gewerk het, ontvang ons al die voordele en kan ons nou as Koningskinders lewe. Dit is vir al God se kinders vir wie Paulus en Timoteus die brief van Filippense skryf:  2… Die brief is bedoel vir al die mense in Filippi wat God s’n is omdat hulle Christus Jesus ken.

Wat beteken dit om God s’n te wees?

Ek dink nou aan daardie ou advertensie van Joshua Doore. In die advertensie was daar altyd ’n oom met so ’n kaalkop. Hy het altyd so deur die groot store met al die baie meubels gestap en op die ou end op ’n groot stoel gaan sit. Dan het hulle die tema liedjie gesing: You’ve got an uncle in the furniture business, Joshua Doore. Dis familie man, en familie sal jou mos altyd ’n goeie deal gee. Of hoe?

Wanneer dit by die koninkryk van God kom, het ons ook familie. Ja, God is ons Pa. Ons is sy eiendom. Watter gerusstellende gedagte is dit nie. God as Vader wil vir ons net die beste hê en Hy sal vir ons die beste deal gee. God wil altyd die beste vir sy familie gee en Hy doen dit ook. Hy was selfs bereid om sy eie Seun se lewe te gee, sodat dit vir ons moontlik is om eendag die ewigheid saam met hulle te kan deurbring. Watter beter deal is daar in die lewe?

Die vraag is net of jy al vir Hom gekies het om jou Vader te wees?

Daar waar jy jou lewe leef, leef jy dit soos familie van God? Kan mense uit jou dade sien dat jy God se familie is? Sommige kinders van God lyk soos geheime agente met geen teken van God se werke nie. Hulle lyk eintlik soos die eiendom van die wêreld.

Dis so asof baie van ons net God s’n wil wees as die dinges die fan getref het. Dan, ewe skielik, gryp ons met alles vas aan ons familie en wil ewe skielik hê dat ons Hemelse Vader ons nou uit die dinges moet red. Maar dit werk nie so nie, want hier gebruik en selfs misbruik ons God.

God is ons Vader, want Hy het ons geskape. Ons is deel van sy nuwe wêreld, maar ook deel van sy familie. Daarvoor kan ons wel kies. As ons dan daarvoor gekies het, moet ons sorg dat ons ook soos God se kinders leef. Kom ons maak seker dat ons wegbreek van die wette van die wêreld en eerder God se voorskrifte volg.  Dit is so maklik om te verstaan: Wees lief vir jou naaste en leef dit uit.

Om oor na te dink

Is jy God s’n?

Is jy deel van sy familie?

Getuig jou lewe daarvan?

Gebed

Vader, baie dankie dat ek kan weet dat ek ’n Pa het wat vir my baie lief is en alles vir my sal doen. Dankie dat ek deel is van ’n familie wat vir mekaar omgee en vir mekaar sal cover. Help my om ook so te lewe en regtig om te gee vir die mense om my, selfs die vreemdes. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?