God se Woord in vandag se woorde

God se genade is genoeg


Baie, baie kere staan ek verwonderd oor God se genade. Eintlik is die grootheid daarvan eenvoudig vir my net te groot om heeltemal te verstaan. Hoe kan God vir ’n sondige ou soos ek sommer net so lief wees? Maar meer nog, hoe kan God die pak vat vir al die verkeerde dinge wat ek al aangevang het? En dan nog vir al daai dinge wat ek moes doen en eenvoudig net te lui of te skaam was om te doen …

Maar dit is nou presies wie ons God is. ’n God wat Homself nie kan keer nie en nie vrae vra wanneer Hy Sy genade uitstort nie. Wanneer my vrou hieroor praat, vat sy ’n bak en ’n groot beker met water. Soos sy praat gooi sy die bak vol water, maar stop nie as dit begin oorloop nie.

Vinnig wys mense uit die gehoor vir haar dat die bak vol is, maar sy steur haar nie aan hulle nie. Wanneer die water van die tafel af begin rol, spring mense selfs op om te kom help opdroog.

Dan verduidelik sy dat dit eintlik verwys na God se genade. Dit hou nie op nie. Al is die bak vol, loop dit nog steeds en dit rol oor die tafel en selfs die vloer. Hierdie genade van God wat so oorloop, is nie net vir die mense in die kerk of langs die kerk nie, maar vir die hele mensdom bedoel:

11God het Sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om Sy verlossing te beleef.

Die beste nuus ooit vir my as sondaar! Vir elkeen van ons. God se genade het nie grense nie. Dis nie net vir sy uitverkore volk nie, maar vir ons almal. Dit is ook nie beperk tot “goeie” mense nie, maar vir alle sondaars. Ons almal wat oor die grense van die lewe foeter.

Baie van ons het al goeters aangevang wat baie erg was en dan wonder ons hoe groot God se genade is. André staan hier:

Ek was een van daardie mense wat oor die draad was. As ek net geweet het wat ek vandag weet, het dit nie eers deur my gedagtes gegaan nie.

Ek is nou vier jaar geskei en as ek dit kon verander, sou ek. Ek hoop en glo die Here sal my vergewe vir dit wat ek gedoen het. Dit het my uitmekaar geskeur en dit voel of dit nie regkom nie. Ek is so spyt daaroor …

Hoe kom ‘n mens weer op die been? Ek het nooit weer na ’n ander vrou gekyk nie. Maar dit alleen is verskriklik erg. Ek sukkel om met die Here te praat. Dit is baie erg om nie met die Here te kan praat nie, ek kan niks vir Hom sê nie …

Help asseblief!

Vir André, is God se genade groot genoeg. Die foute wat hy gemaak het, sal God vergewe. Hy het reeds deur Sy Seun se dood aan die kruis die straf gedra. André het sy skuld voor God bely en kan nou aangaan met sy lewe en êrens langs die pad weer vrede vind. Hy sal weer by die plek kom waar Hy met God kan praat. Vreugde sal weer aan sy deur kom klop, want God se genade is genoeg.

Ook vir jou. Maak nie saak hoe groot die fout is wat jy gemaak het nie, God se genade is oorgenoeg!

Teks
Tit 2:11-14

Om oor na te dink
Jy al jou foute voor God se voete neergesit?
Dink jy God se genade is genoeg?
Hoe moet jy anders leef?

Gebed
Here, waarom voel dit soms of U genade vir ander mense bedoel is, maar nie vir my nie? Help my asseblief om los te kom van al my skuldgevoelens! Elke liewe een, sodat ek regtig vry kan wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek