God se Woord in vandag se woorde

God se liefde nie lippetaal


PS. Indien jy nog nie die Navorsingslys ingevul het nie en jy kan aanlyn gaan, sal jy asb so gaaf wees om dit te doen? Hier is die skakel: https://kruispad.247.org.za/navorsing-2018/

Soms loop die lewe darem net nie lekker nie. Dis die een curveball na die ander en dit voel of die lewe stukkie vir stukkie inmekaar val. Was jy al daar? Ek vermoed so. Dalk is jy nou daar.

Ek was ook al daar. Toe ek ’n tyd gelede my vierde boek se bekendstelling reël, kom daar ’n paar curveballs na my toe aangevlieg, Die dinge het mooi geloop. Vrywilligers het aangebied om op allerhande maniere te help – in die Kaap en in Pretoria. Ons wou ’n gesellige aand van hoë gehalte aan die mense bied.

Maar o wee! Ek kry toe slegs ’n paar weke voor die tyd ’n oproep wat my inlig dat die boeke vanuit Indië die skip verpas het en nie betyds gaan wees nie. Sjoe! Dit voel of ’n mens se hele kaarthuis inmekaar tuimel. Hoe nou gemaak? Alles is gereël – die kos, die kunstenaars, die mense, die sale. Hoe hou ’n mens ’n bekendstelling sonder boeke?

Terwyl ek letterlik met my hande in my hare sit, vang my oog ’n e-pos van ’n Kruispadleser wat uit die bloute op my skerm verskyn:

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Ek lees dit oor en oor en hierdie kort vers kom maak die storm in my onmiddellik stil. Op daardie spesifieke oomblik gebruik God iemand om my te laat terugstaan, die emosies opsy te stoot en by die waarheid die pas te makeer: Jy is nie alleen in die storm nie. Ja, jy is dalk baie kleiner en swakker as die storm, maar daar is iemand by jou om saam met jou daarteen te veg. Die Een wat elke storm kan stilmaak.

Partymaal is ons traag om die eenvoudige waarhede te onthou. Ons vergeet wat Jesus vir ons gedoen het. Ons vergeet van Sy oneindige liefde vir ons. Ons vergeet dat 13… die Here ons baie liefhet. En dis nie net lippetaal nie.

Weet jy hoe lief God jou het? Onthou jy dat Hy jou so liefhet dat Hy bereid was om sy Seun vir jou aan ’n kruis op te offer? Ja, dit is beslis nie net lippetaal nie. God het woord by daad gesit en Sy liefde word bewys aan ’n houtkruis.

Die 1933-vertaling sê ons word deur die Here bemin. Jy sien, dié liefde is meer as net vriendskaplike liefde waar ons mekaar respekteer. Die liefde wat Jesus vir ons het, is presies soos die liefde tussen huweliksmaats. Hulle kan nie hulle oë van mekaar afhou nie. Hulle kan nie anders as om die ander met alles te dien nie. Hulle gee hulleself ten volle vir mekaar.

Daardie liefde en nog meer het Jesus vir jou. As Hy na jou kyk, verkrummel Hy. Daar is niks wat jy meer kan doen sodat Hy jou nóg meer kan liefhê nie.

En tussen die storms om my met ’n vrag boeke wat op ’n kaai in Indië staan, kan ek rustig raak, want my geliefde Vader se liefde is nie net lippetaal nie. Hy bemin my en sal my help. Hy sal my hand neem en my help om te midde van die storm steeds my oog op Hom te hou.

En op ’n manier maak Jo Black se lirieke juis hier vir my sin:

Die lewe sal jou gooi en jou rondruk.
Soms voel dit of jy sink, maar jy moet net jou voete
Soos Petrus vind
En dalk net weer glo soos ’n kind …

Teks

2 Tessalonisense 2:13-17

Dink bietjie hieroor

Hoe lyk die winde om jou?

Glo jy dat Jesus saam met jou stap?

Glo jy dat Hy die winde kan laat bedaar?

Gebed

Here, ek glo U het my lief. Ek glo dat U my bemin. Ek het U so nodig. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek