God se stories bring vrugte
Wanneer God in die kamer is, gebeur dinge, want daar waar God opdaag, kan dinge nie dieselfde bly nie. Wanneer die mense in Kolosse vir God ontmoet, is alles anders, maar nie net by hulle nie. Regoor die wêreld gebeur dit ook so.
As God opdaag, bly mense nie soos hulle is nie: 6Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is.
Paulus praat van vrugte. En ek probeer dink hoe God se vrugte vandag nog in die wêreld gestalte vind. Met ’n skok besef ek dat ek sukkel om dit te sien. Ja, hier en daar is stories van mense wat vrugte ervaar. Maar dis glad nie meer soos in die tyd na Jesus se koms na die aarde nie.
Hoekom nie? Wel, ek weet die fout lê nie by God nie, want Hy is presies nog dieselfde. Dan moet die fout by ons lê. Ons wat die verantwoordelikheid het om die boodskap na die wêreld te bring, doen dit nie meer nie. Ons wat die boodskap van die lewe het, hou dit vir onsself en ontneem ander om werklik vrugte te dra.
Daar is geen beter tyd as nou om die boodskap na die wêreld te neem nie. Maak jouself net een dag agter die TV vas en kyk die nuus. Jy sal gou agterkom: Daar is net een oplossing vir die gemors waarin die wêreld is en dit is die lewegewende boodskap van Jesus Christus.
Waar Jesus se verlossingsboodskap grondvat, verander mense radikaal. Mense vergewe en sit jarelange baklei opsy en omhels mekaar. Verhoudings wat aan skerwe gelê het, begin weer groei. Bokshandskoene word verruil vir teekoppies. Snaakse goed gebeur. Mense staan verbaas, maar wanneer die wonderlike nuus mense vir die eerste keer tref, is daar vrugte, wonderlike vrugte.
Ek en my vrou sit op die stoep en luister na ’n ou wie se lewe aan flarde is. Hy het goed drooggemaak. Nou het die lewe hom, letterlik en figuurlik, harde houe in die gesig gegee. Hy is nie op ’n goeie plek nie.
In my oë bombardeer my vrou hom met die evangelie en stories uit die Bybel, soveel so dat ek haar later onder die tafel skop. Ek is bang hy slaan toe en dink ons is van daai teksvers-gooiers. Sy maak toe maar verskoning omdat sy hom so bombardeer met die tekste.
Hy kyk sag in haar oë en sê: Nee, jy moet nooit ophou nie. Dis die nuus wat ek nodig het. Dis al wat lig bring in my lewe. Dié stories gee my weer hoop. Dis iets waaraan ek kan vashou en wat my help om aan te gaan.
Ek het my bedenkinge een vir een gesluk en my voete teruggetrek.
Daar is soveel mense wat God se Woord nodig het. Wil jy nie probeer om dit uit te dra nie? Stel jouself net bereid, God sal die res doen. Dalk moet jy ’n paar kaartjies met teksverse êrens gaan neersit.
Pieter Barnard van Bridge Ministries lei mense op om sielewenners te word: Hy vertel:
“’n Jong sekretaresse by ’n groot maatskappy en ’n introvert, woon ons kursus by. Sy vra hoe sy dan die Groot Opdrag kan uitvoer? Ek gee aan haar ’n kaartjie so groot soos ’n visitekaartjie. Op die kaartjie is net 6 prentjies wat gebruik kan word om die evangelie te verduidelik. Ek daag haar uit om dit net op haar lessenaar te los. Die volgende week is sy glimlaggend terug. Sy het dit net op haar lessenaar gelos. Die besturende direkteur tel dit toe op en vra haar na die betekenis van die kaartjie. Sy verduidelik toe vir hom wat elke prentjie beteken. En siedaar! Sy het die evangelie met iemand gedeel!”
Hoe moeilik kan dit nou wees, het my Ma altyd gevra…
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Het die mense om jou vrugte nodig?
Is God sigbaar daar waar jy woon en werk?
Hoe kan jy God se boodskap met ander deel?
Gebed
Hallo Vader. U praat nou al gereeld met my om U verlossende boodskap met ander te deel. Ja, U weet ek is nie van die voor-die-bors-gryp tipe nie. Help my om nie skaam te wees om U boodskap met ander te deel nie. Amen