God se Woord in vandag se woorde

God se tydsberekening is altyd reg


God se tydsberekening is altyd reg. Op die regte tyd sal die dinge gebeur. En ja, dit voel nie altyd so nie. Wanneer die moeilikheid hoog om ons groei, kan ons dikwels nie die uitkoms sien nie. Ons bid verwoes, maar dit voel vir ons asof God nie hoor nie en ons staan met ’n hoop onbeantwoorde vrae in die hande.

Tog weet ek God se tydsberekening is altyd reg. Soos die tyd wat Jesus se verlossende boodskap die wêreld ingekom het: 3Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Daar was nie ’n beter tyd nie.

Maar ook in ons lewe daag God altyd op die regte tyd op. Soos Annatjie vertel:

Hallo Gerjo Ben

‘n Jaar gelede het ek my werk verloor en ek het gedink dat dit God se manier was om vir my te sê, “Doen nou jou eie ding, jy wou nog altyd”.  Ek het weggespring en my eie ding begin doen. Dit het maar broekskeur gegaan en al die ekstra geldjies wat iewers was en die wat my ma my mee gehelp het was later op.

Einde van Julie hierdie jaar was daar R200 (of so iets) in die bank, my huishuur was drie maande agter en so ook my karpaaiement. Ek het elke oggend Bybelstudie gehou en later vir die Here gesê ek dink nie ek glo meer nie, want niks wil dan regkom nie. Dit is nie asof ek agteroor sit en wag dat die besigheid moet inkom nie.

Verlede Woensdagoggend reën dit toe lekker hier op Piketberg en ek sit hier en doen nou maar dit wat ek het om te doen (ek het ‘n adminbedryf begin wat klein- en mikro-besighede help om die noodsaaklike gedoen te kry). Ek sit nie sonder werk nie, maar almal kan nie betaal nie (ek het my voorgeneem om te help al kan iemand nie betaal nie).

Toe lui my telefoon, en twee boere van bo-op die berg vra of ek hulle wil kom sien. Ek het al drie keer vir dieselfde ouens gekwoteer en ek het begin dink dit is maar seker nie vir my beskore nie.

Ek ry na hulle toe en die kort en die lank van die saak is, ek moes Maandag by altwee die ouens begin werk. Tussen die twee van hulle verkoop ek omtrent 30 ure per week. Hulle het nie gekibbel oor my tarief of niks nie.

Hierdie twee kontrakte maak nou dat ek genoeg geld sal in om al my verpligtinge na te kom en ek het nog genoeg tyd om my ander kliënte ook te help én die wat nie kan betaal nie.

En dit net toe ek begin dink ek is alleen, dat die Here my nie gaan help soos wat ek gehelp wil wees nie en dat ek seker maar net weer vir God verkeerd verstaan het. Want, o goeiste, as daar nou een mens is wat kan misverstaan dan is dit ek!

Dis ’n gewone storie en mense wat in die besigheidswêreld is ken dit baie goed. Maar ek weet nie hoe God dit regkry nie, Hy kom altyd op die perfekte, regte tyd deur. Vir Annatjie het Hy presies op die regte tyd met die twee kontrakte gehelp.

So sal God vir elkeen van ons op die regte tyd opdaag. Dalk is dit nie presies soos ons gevra het nie, maar God sal daar opdaag met die beste plan vir ons.

Teks
Tit 1:1-4

Om oor na te dink
Waarmee sukkel jy?
Hoe lyk God se tydsberekening?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Here, ek het nie altyd die geduld om tevrede te wees met U tydsberekening nie. Help my asseblief om U te vertrou met alles wat in my lewe gebeur. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek