God se Woord in vandag se woorde

God se woord is kragtig verby


(Baie sit met ‘n hoop onsekerhede oor die COVID 19 inenting. Ek kan nie vir jou ‘n antwoord gee nie, want dit is elkeen se persoonlike keuse. Hier is wel ‘n goeie artikel (klik hier) wat jy kan lees om net eers ‘n paar paddas uit die pyp te haal om jou te help om ‘n verantwoordelike keuse te maak. Mag God ons help om die regte keuse te maak.)

’n Mens sal nooit besef hoeveel krag God besit nie. Ek dink nie daar is genoeg woorde in ons woordeskat om God se krag ten volle te omskryf nie.

  • Hoeveel krag neem dit om die see en die aarde te skei?
  • Hoeveel krag het dit geneem om die aarde toe te plant?
  • Hoeveel krag het dit geneem om die diere een vir een te ontwerp en te skep?
  • En die mens. Hoeveel krag was daar nie betrokke om alles te laat werk nie?

Te veel vir my om te verstaan, want God is eenvoudig te groot om in my verstand te pas.

Jesus het self ’n paar kragspele gedoen terwyl Hy hier op aarde was.

  • Hoeveel krag moes dit neem om iemand gesond te maak?
  • Hoeveel krag het Hy gebruik om duiwels uit mense te dryf?
  • Hoeveel het dit van Hom gevat om derduisende mense op een slag kos te gee?
  • En dan, hoeveel krag het ’n mens nodig om die duiwel te oorwin?

Dit is alles heeltemal te veel om te verstaan.

En dit stop nie hier nie. Alles wat deel is van die goddelike familie, het merkwaardige krag. Kyk maar net wat kry die Heilige Gees reg.

Die Heilige Gees gee oombliklik vir mense ’n hele woordeboek van ’n nuwe taal en mense praat en verstaan ’n taal wat hulle nog nie eens van gehoor het nie. Deur die werking van die Heilige Gees word mense omgedop en stap hulle presies in die teenoorgestelde rigting, weg van die kwaad, in God se arms in.

Dis kragtig. Dit is bomenslike krag.

Dit gaan nog verder. Die woorde van God, wat ons in die Bybel kan hoor, is net so kragtig. Wanneer mense die Woord van God lees, kan hulle nie onaangeraak bly nie, want God werk met Sy Gees, deur Sy Woord, kragdadig in mense se harte.

Hier sien die sondaar sy sonde raak en kom tot inkeer. Hier sien mense die werke van die Almagtige God en los hul verkeerde pakkies net daar en stap agter Hom aan. Dit is krag wat die mens se verstand te bowe gaan.

12Die woord van God is lewend en kragtig.

En as die Woord van God geen krag op jou uitoefen nie? Dan vermoed ek moet jy effe na binne kyk. Die probleem lê nie by die Bybel nie, maar by jou. As jy nie God deur Sy Woord hoor praat nie, is dit nie Sy stem wat stil is nie, maar jou ore wat doof geword het.

Maak seker dat die wêreld se geraas nie die stem van God, waar Hy deur Sy Woord praat, oordonder nie. God maak Homself vir jou bekend deur Sy Woord. Daar leer jy Hom en ook Sy wil vir jou lewe ken. In God se Woord is daar so baie krag. As jy gaan om te hoor en te leer, sal God se krag deur Sy Woord jou beweeg.

Jy sal anders wees …

Teks
Hebreërs 4:12-16

Om oor na te dink
Lees jy God se Woord genoeg?
Beweeg God se Woord jou?
Ervaar jy God se krag deur Sy Woord?

Gebed
Vader, dankie dat U deur U Woord met ons praat. Dankie Here, dat U Woord vandag nog kragtig aan die werk is. Help my om meer tyd daarmee deur te bring, sodat ek meer krag daarin kan ervaar. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek