God se Woord in vandag se woorde

God verlos jou – dis genoeg


Hier in die middel pop daar ’n snaakse vers op. Dis asof Paulus homself bedink. Hy weet hy het al só baie vir Timoteus geleer, maar is dalk bekommerd dat hy dalk te veel gepraat het en Timoteus so effe verdwaal geraak het tussen al die dinge wat hy tot nou toe vir hom geskryf het. Daarom die vers: 9Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid.

Dis asof Paulus teruggaan met die muis en al die woorde wat hy tot nou toe vir Timoteus geskryf het, highlight en bold. Hy wil die belangrikheid daarvan dubbeld onderstreep. Dit is lewensreddende waarhede en moet met gesag oorgedra word.

Eintlik som hy presies dit wat hy tot nou toe gesê het in die volgende vers op: 10Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo. (1983-vertaling)

Die waarheid, die absolute waarheid, die enigste waarheid wat eintlik saak maak is dat God ons Verlosser is. Die res is geraas. Ja, soms raak ons so vasgeval in die geraas dat ons die eenvoud van die verlossende boodskap mis.

Maar lees die vers weer. Dis nie ’n maklike reis nie. “Span jou kragte in en stry”, wys daarop dat dit nie ’n walk in the park uitstappie is nie.

Ek stap gereeld verby die spiertiere in die gym. Dan dagdroom ek om ook eendag sulke bulte vir spiere te hê, maar dan sien ek hoe hard hulle elke dag oefen en hoe hulle alles in die stryd werp om ’n klein stukkie spier by te kry.

Dit is ook waar van die lewe daar buite. Dis nie maklik nie. Dis ’n gestoei om kop bo water te hou. Daar kom curveballs na jou kant gegooi wat jy nooit verwag het nie. Van vreemdelinge, maar ook van vriende en familie wat dit nog erger maak.

Ek besef maar net al hoe meer dat ek te lig in die broek is om die lewe daar buite op my eie aan te durf. Ek kan nie die branders wat so die een na die ander oor my kop breek, wegwens nie, maar ek kan wel vashou aan die hoop en die vooruitsig dat my verlossende God saam met my deur die qwarra sal stap.

Ons moenie hierdie boodskap vergeet nie. Ons gaan dit nodig kry wanneer daardie volgende groot brander vanaf ons huwelike en verhoudings, ons besigheid en werk of waar ookal aangerol kom. Die brander sal ons nie laat versuip nie, ja, dalk rol, maar ons God sal keer dat dit ons nie verswelg nie.

Kom ons memoriseer die teks, so eenvoudig in Die Boodskap-vertaling vir ons weergegee: 10… Ons weet mos dat die lewende God alles wat Hy beloof het, sal doen. Hy is die Een wat almal red, veral dié wat op Christus vertrou.

God het ons só lief dat Hy bereid was om Sy Seun se lewe op te offer vir ons. Hoekom sal God ons dan nou drop? Hoekom sal Hy ons dan nou aan onsself oorlaat? Nooit as te nimmer nie. God is te lief vir ons.

Glo dit!

Hoop dit!

Gaan leef dit!

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Dink bietjie hieroor

Waar rol die brander jou?
Glo jy dat God saam met jou daar is?
Leef jy dit?

Gebed

Lewende God, my hoop is op U gevestig wanneer die branders my teen die sand wil omdop. Ek wil naby U bly sodat U my kan leer om met toewyding aan U te leef. U het my verlos van die mag wat sonde oor my gehad het. Nou kan ek in oorwinning leef en op U nabyheid staatmaak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek