God se Woord in vandag se woorde

God wil jou gebruik


Die lesers vir die wie boek Hebreërs geskryf is, ken die geskiedenis van hoe God met die volk ’n pad gestap het baie goed. Hulle ken die Ou Testament en die gebruike.

Hulle moet natuurlik ook die rol wat die hoëpriesters in die tyd gespeel het, ken. Die skrywer wil die hoëpriester as beeld deurtrek na wat Jesus hier op aarde kom doen het. Die skrywer is egter bang dat die ouens nie meer onthou wat die rol was nie en daarom gee hy so ’n vinnige voëlvlug oor wat die hoëpriesters in die ou tyd gedoen het.

Kom ons lees saam:

1Laat ons oor hoëpriesters nadink. ’n Hoëpriester word uit mense gekies en aangestel om ander mense se sake by God te behartig. Dit gaan oor godsdienstige dinge wat God raak: die hoëpriester moet allerhande offers vir God gee sodat God nie die mense straf vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie.

Die hoëpriester het ’n groot werk gehad. Hy was basies die kussing tussen God en die mense. Hy moes laag voor God gaan kniel vir die verkeerde dinge wat die volk gedoen het. Hy moes hard gaan smeek het by God om nie die volk te straf vir al die verkeerd wat hulle aangevang het nie.

2Omdat die hoëpriester self ’n swak mens is, sal hy simpatie hê met mense wat verkeerde dinge doen of wat nie weet wat reg is nie.

Die hoëpriester het egter verstaan waardeur die volk gaan. Hy kon hulle nie veroordeel en slegsê nie, want sy eie bene was ook maar van klei gebou. Hy self het ook geglip en gegly. Hy weet hoe moeilik dit is om in die lewe staande te bly as die winde van versoeking so sterk waai.

3Daarom moet hy eers vir al die verkeerde dinge wat hy self gedoen het met ’n offer vir God om verskoning vra voordat hy dieselfde vir die ander mense kan doen.

Dit verstaan ek self so bitter goed. Ek weet hoe sukkel ek. Ek ken my eie dom keuses. Die fliek van my lewe speel ook kort-kort voor my oë verby en ek sien die plekke waar ek neergeploeg het. Ek sien die sonde en ek voel nie te lekker daaroor nie.

Dan wonder ek hoe God dit regkry om my aan te stel om Sy Woord aan ander oop te breek.

Ek het ’n groot les by die bekende prediker, Rick Warren geleer. Elke liewe keer voor hy begin preek, bid hy: “Vader, vergewe U bedienaar van die Woord se sonde.”. Ek bid ook so, want ek weet van my eie pakkie.

Baie gebruik dit as ’n verskoning. Here, weet U hoeveel ek al in my lewe verkeerd gedoen het? Ek mag nie my mond oopmaak nie.

Maar ek het nuus vir jou. Soos God die sondige hoëpriester gebruik het. Soos wat Hy sondige predikers gebruik, wil Hy ook vir jou gebruik om ’n lig daar in die donker wêreld te wees.

Of jy by die werk is, by die huis, in ’n hospitaalbed, op die plaas of in die straat, wees jy op jou manier God se lig. God gebruik krom stokke om ’n reguit hou te slaan.

Teks
Hebreërs 5:1-6

Om oor na te dink
Hoeveel sonde het jy al bymekaargemaak?
Dink jy God wil jou gebruik?
Waar wil God jou gebruik?

Gebed
Vader, ek is baie sondig. Dit is vir my ’n verrassing dat U my wil gebruik. Maar ek is gewillig. Gee my die krag en wysheid om daar waar U my roep, ’n verskil te gaan maak en U lig in die duisternis te wees. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek