God se Woord in vandag se woorde

God woel deur jou omstandighede


’n Vriend van my het ’n toerisme besigheid. Met Covid het alles by hom morsdood geruk. Dit is vir my wonderlik hoe hy toegelaat het dat die tyd hom vorm. Hy skryf:

In hierdie moeilike tyd moes ek baie vinnig my ankers in die lewe regkry, sodat die storm my nie omslaan nie. Ek moes seker maak dat my huis op die rots gebou is.

Alles waarop ek gewoonlik staatgemaak het, was skielik nie meer daar nie en ek het besef die enigste manier hoe ek deur die vuur kan loop sonder dat dit my brand, is as God saam met my loop.

Ek moes leer en glo dat God vir my (ons) sal sorg. Hy sal vir my alles gee wat ek nodig het. Ek kan al my probleme oorgee aan God en vergeet daarvan. Hy sal daarmee deal. Hy sal sorg dat alles vir my ten goede uitwerk, soos dit moet. Die enigste voorwaarde is dat ek in God moet glo, dat ek Sy wil sal doen deur goed te wees vir ander mense, hulle met liefde en respek te hanteer, deur my manier van lewe, te wys en getuig hoe lief God vir my is en hoe Hy vir my sorg. En dat ek van my finansies/tyd/talente moet gee, sodat dit gebruik kan word om meer mense van God en Sy liefde vir ons te vertel.

Ek het baie nader aan God begin beweeg deur stiltetyd saam met Hom te hou, en deur die studies waarna ons aanlyn kyk, te gebruik om die Woord te bestudeer, en so te hoor wat God vir my wil sê.

Hier is ‘n paar gedagtes om oor te dink:

  • Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.
  • Never give up. Moet nooit hoop verloor nie.
  • Leef in die oomblik.
  • Satan veroorsaak vrees in ons.
  • God is ‘n God van liefde. Hy wil net die beste vir ons hê, maar dan moet ons moeite doen om tyd saam met Hom te spandeer.
  • Soos ons geloof meer word, verdryf dit die vrees.

God sal ons beskerm, Hy stuur Sy engele om ons te omring, waar ons ookal gaan. As dit moeilik gaan, val net terug en rus in God se arms. Hy is altyd daar en is baie lief vir ons.

My vriend het nie Martie-jammer-dinges se kleertjies aangetrek en op ’n hopie gaan sit nie. Hy het die seisoen gebruik om sy verhouding met God sterker te maak. Dit is juis in hierdie intieme verhouding met God wat die omstandighede waarin hy nou is, verstaanbaar word en hy God as sy Vader ervaar. Hy weet God gee vir hom, as Sy kind, baie om.

My vriend verstaan die vers baie goed: 7Leer dan iets uit hierdie slegte dinge wat met julle gebeur, want God maak met julle soos ’n pa wat regtig vir sy kinders omgee.

Teks
Hebreërs 12:4-6

Om oor na te dink
Hoe lyk jou omstandighede?
Waar is God aan die woel?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Vader, dankie dat ek U kind mag wees. Ek weet U werk deur my omstandighede, maar dis nie altyd lekker nie. Gee my krag om te verstaan en te leer. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek