God se Woord in vandag se woorde

Gratis nartjies vir jou


Filippense 4:10-20

Vir die mense wat in hulle moeilike omstandighede nog vir Paulus ook gehelp het, is daar hierdie groot belofte: 19Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort.

Ons selgroep het ’n bin nartjies by ’n boer in De Doorns gaan haal. Dit was die heerlikste soetste naartjies. Wanneer jy die eerste skyfie in jou mond sit, ontplof die wonderlikste geure en jy kan net nie ophou eet nie. So tussen die etery, het ons groep dit in kleiner sakkies opgemaak en weer op die bakkie gepak.

Die volgende oggend het ons die sakkies tydens die diens by die deure van die kerk gepak en toe almal na die diens uitstap, het elkeen ’n sakkie nartjies gekry.

Almal was dankbaar, maar jy kon sien dat nie almal geweet het wat om met die gratis geskenk te maak nie. In elke sakkie was daar ’n helder oranje papiertjie met die volgende woorde op: Jy word geseën om ander te seën.

Daar was nie ’n reg of verkeerd nie. Elkeen kon doen soos wat hy of sy wou. Party het dit net daar begin eet. Ander het dit vir die arm ou op die straat gegee. Ander het dit huistoe gevat.

En op ’n manier skilder dit die prentjie van ons mense. Sommige gebruik die seëninge net vir hulself. Ander deel dadelik uit en ander vat dit huis toe omdat hulle nie lekker weet wat om nou daarmee te maak nie.

Wat doen jy met die seëninge wat God vir jou in oorvloed uitdeel?

God wil ons seën. God wil uit sy oorvloed vir ons gee. Hy wil in al ons behoeftes voorsien. Die 1983-vertaling sê dit so mooi: 19En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

God wil in oorvloed, oormaat, emmers vol, sakke vol “ryklik” voorsien. Hy wil ons tenke vol maak, sodat dit oorloop na ander. Ons moet egter reeds aan ander gee wanneer die tenk nog nie vol is nie. Selfs daar waar ons min het, moet ons alreeds begin uitdeel. ’n Mens moet leer om van die eerste R10 ’n gedeelte weg te gee, want as jy dit nie met die R10 regkry nie, gaan jy sukkel om dit met die R100 te doen. As jy later ’n R1 000 het, raak dit eintlik onmoontlik om iets daarvan weg te gee as jy nie by die R10 geleer het nie.

Elke dag kry ons soveel seëninge. Dalk moet ons vir die Here vra om ons te help om net weer al die seëninge raak te sien. Dan sal ons sekerlik weer met dankbaarheid oorval word en sommer ook vir ander seën.

Weet dat God die mense wat met ’n glimlag gee, baie liefhet. Weet dat dit ’n goeie geur versprei. Weet dat God in elkeen van jou behoeftes sal voorsien. Mag dit waar wees van ons almal se lewens.

Jy word geseën om ander te seën.

Om oor na te dink

Word jy geseën?

Deel jy genoeg uit?

Is dit vir jou lekker om te gee?

Gebed

Vader, dankie dat ek geseën word. Dankie dat U in al my behoeftes voorsien. Help dat ek ook ander sal seën. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek