God se Woord in vandag se woorde

Groter, beter, mooier, woester en dan nog ’n bietjie


Ek sit rustig op ’n boer se plaas en drink geperkoleerde koffie. Dis oestyd. Dit raas buite soos die werkers die oes bymekaarmaak en in die lorries laai. Ek is so-effe poegaai, want ek het pas Sondag se preek opgeneem.

Skielik stap daar ’n man in. Ek weet ek ken hom, maar kan nie die kloutjie by die oor bring nie. Toe onthou ek. Ek was op sy troue. Dit was ’n swierige besigheid. Maar die man wat ek voor my sien, is anders as die man op die troue.

Hy begin in ’n sagte stem en gee my ’n kykie in sy lewe. Menigte male het hy soggens deur die mis wakker geword en geen idee gehad hoe hy in die bed gekom het nie. Hy het nie eers lekker geweet in wie se bed hy sy oë oopmaak nie. Hy kon nie onthou op die hoeveelste tequila hy afgeskakel het of met watter vrou hy kamer toe is nie.

Hy het net ’n bier nodig gehad om hom weer op die regte stasie te kry om weer die trein te klim na die aand toe.

Hy vertel hoe geld nie vir hom ’n probleem was nie. Die groot casino’s het hom na hulle toe gevlieg en alles op die huis aangebied. Solank hy net aanhou om sy blink goue, pers en swart kaarte by die tafels te gebruik.

En as die geld op is, klim hy op die vliegtuig, kry ’n paar goedjies en die kasregister lui in sy bankrekening. Hy het die luukste karre gery en toe die drank nie meer genoeg skop ingehad het nie, moes die wit rytjies kom help.

Groter, beter, mooier, woester en dan nog ’n bietjie.

En tog was dit nie genoeg nie. Hy het selfs ’n paar vroue lewendig verloor. Die sielkundige het vir sy ma-hulle gesê hulle moet maar vergeet dat hulle ’n seun gehad het. Daar’s nie pille nie …

Maar nou is hy anders. Hy glimlag die hele tyd. Hy kyk anders na ‘n mens. Hy praat anders.

Hy ry ’n eenvoudige karretjie en sê dat geld nie meer vir hom belangrik is nie. Hy wil net meer en meer van God leer. Drie tot vier ure ’n dag, wil hy net kennis van God indrink, want sien, hy het homself in God vasgeloop.

Die lewende, almagtige God het hom aangeraak en hom weggeruk van selfvernietiging deur al die wêreld se plastiekdrome. Selfs die groot boer oorkant die tafel sak sy kop en sê saggies: “Dis net ’n wonderwerk.”.

Voor my oë sien ek die grootse effek van dié teksvers in lewende lywe: 26… Christus het maar een maal gekom toe die tyd daarvoor ryp was. Toe het Hy Homself vir God geoffer en so klaargespeel met al ons sondes.

Teks
Hebreërs 9:23-28

Om oor na te dink
Waar lê ’n stuk sonde nog in jou lewe vasgedruk?
Is Jesus se vergifnis genoeg daarvoor?
Hoe nou gemaak?

Gebed
Jesus, hoe groot is U daad aan die kruis nie? Om die straf vir al my sondes te dra. Dis eintlik te groot vir my om heeltemal te verstaan, maar ek vat dit en neem dit en leef dit. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek