Growwe woorde
Ons bediening was nog jonk toe ek ’n storie skryf oor moerse gate. Dit was ’n brief vir my vriend wie se pa in ’n motorongeluk dood is. Ek het probeer om die groot gat te beskryf wat sy pa agtergelaat het met sy onverwagse dood.
In reaksie hierop kry ek ’n oneliner e-pos van ’n bekende en geliefde teoloog: “Die evangelie is kragtig genoeg om nog kragwoorde ook te gebruik.” Ek het die kommentaar eers nie goed gevat nie, maar later het ek besef dit maak nie saak hoe goed ek die gebruik van die woord kon regverdig nie, dit bly ’n kragwoord en dit val nie mooi op die oor nie.
8… Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik voel, moet jy dit nie eens gebruik nie.
Ons raak so gewoond aan die taal wat deur die TV na ons aangekruip kom dat ons dink dit is hoe ’n mens maar deesdae praat. Selfs in ons vriendekringe hoor ons die taal en is dit vir ons niks vreemd om ook so te praat nie. Maar die vraag is of dit vir Jesus aanneemlik is. As Jesus daar tussen jou en jou tjommies staan, sal jy skaam raak vir Jesus se part as die ander (en jy) julle gewone stories met julle gewone taal gebruik?
Ons moet die vissier van ons woorde lig. Die woorde wat uit ons mond kom moet God eer. Dit moet verseker nie God se waarde aantas nie. Kyk, ek gril hoërgraad- as die mens God se Naam vir ’n stopwoord gebruik. Vir my pa het dit net so erg gepla en toe skryf hy die gedig:
Die bome en die berge is dinges mooi
op Nuweland
waar hul krieket speel.
Die mense noem U Naam
As hulle sê dis mooi;
Hul roep U Naam
as hul sesse slaan.
Oor bierblikke, leeg en vol,
en die groot gemors
wat ’n mens kan mors,
roep hulle U Naam.
Vir bee-vee-pee word hul uitgegee,
U Naam oor inswaaibal geskree.
By die stank in die hok
agter die groot paviljoen…
Is dit U beeld,
o Heer,
wat so met blik en woord kan mors?
Maak seker dat dit wat by jou mond uitkom goed val op God se oor.
En soms kom daar uit ’n snaakse rigting ’n glips en dan kan ons nie help om uit te bars van die lag nie, soos die storie van Linda:
Op ’n ligter trant wil ek vir julle hierdie kosbare ware verhaal vertel.
My niggie en haar seuntjie is oppad na hulle familie-vakansiehuis in die Suid Kaap. Sy vra haar seun om gou vir oupa en ouma ’n sms te stuur en uit te vind wanneer hulle na die standhuis vertrek. Hy doen dit en toe die antwoord terugkom, vra sy hom om dit vir haar te lees.
Hy sê toe Oupa sê hulle ry môre-oggend “donners vroeg”.
Sy is BAIE verbaas, want haar pa vloek NOOIT. Sy vra haar seun om te sê PRESIES wat in die SMS staan.
Hy sê: “Ons vertrek môre-oggend DV.”
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou woorde?
Moet jy ’n paar aanpassings maak?
Hoe gaan jy dit regkry?
Gebed
Vader, help ons om ons woorde so te kies dat dit vir niemand aanstoot gee nie. Amen.