God se Woord in vandag se woorde

Haal die spieël voor jou weg


Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Dit gaan nie goed met die wêreld nie. Dit gaan nie goed met die mens nie. Dis ’n gestoei om kop bo water te hou. Mense trap op mekaar om bo uit te kom. En die wat bo is, is bekommerd. Hulle is bekommerd en wonder hoe lank hulle daar bo gaan bly.

Daar buite word ’n mens aangejaag om net nóg vinniger en beter te presteer en as jy nie saam met die groot honde gaan voorbly nie, gaan jy ’n nul op ’n kontrak word. Iets jaag ons om net nóg ’n groter huis en ’n mooier kar te ry. En as almal terugklim in hulle gate en die kombers oor hulle koppe trek, slaan die groot alleenheid hulle gemoed plat.

En die oorsaak? Sonde – dit het ’n spieël tussen die mens en God kom indruk sodat die mens nou net hom- en haarself in die oog het in plaas van vir God, soos wat dit bedoel was.

Ons is geskape om God se grootheid en goedheid raak te sien en Hom daarvoor te eer. Sodra ons nie meer vir God in die oog het nie, verdwaal ons en dan jaag ons verkeerde dinge in die lewe na. Dis die gevolg van sonde en die mens kom steel God se eer en glorie.

Die vlieër gaan nie vlieg nie. Die sonde het alles kom skeeftrek en dan wonder ons nog hoekom ons nie werklik gelukkig is nie. Om weer by ware geluk, makarios, uit te kom, moet ons erns maak met God se woorde.

Die Woord van God leer ons hoe om die sonde ’n bloedneus te gee. Dit leer ons om die spieël waarin ons so graag vir onsself kyk uit die pad te sleep. Hierdie spieël waar ons net op onsself ingestel is, gee ’n skewe beeld van die werklikheid.

Wanneer ek dan vir God in die oog het, is die eie ek nie meer so belangrik nie. Dan staan my behoeftes nie voor in die ry nie, maar God en Sy wil. Dan sien ek ewe skielik ander en hulle behoeftes raak. Dan is dit nie meer vir my belangrik wat ek uit die lewe kan kry nie, maar eerder waar ek vir ander kan gee en waar ek mense wat in die moeilikheid is, kan uithelp.

God se Woord en die evangelie maak ons vry. Dit maak ons vry van onsself en ons eie begeertes. Dit kom maak ons vry van ons sondes en die kragte wat ons al hoe vêrder weg die wêreld wil insleep.

Dit is juis hier, in God se Woord, waar ons Hom ontdek en waar ons rêrig begryp 11…hoe groot en goed God is. Jy sien, wanneer ons die spieël wegtrek, kyk ons nie meer in onsself vas nie, maar in God. Hoe meer ons deur God se Woord stap, hoe groter word die realiteit van God in ons lewe en hoe meer raak ons bewus van Sy grootheid. Dan besef ons dat dit nie ons is wat so goed is nie, maar God en dat dit alles net deur genade is.

Die wêreld het nie een of ander groot president nodig nie. Vir die wêreld om weer normaal te wees, om weer gelukkig en vol vrede te wees, is daar slegs een antwoord: God. God wat oorloop van goedheid. Dis die enigste antwoord.

Mag ek en jy die spieël wat die sonde tussen ons en God kom sit het, wegsleep. Mag ons God se grootheid en goedheid aan ons lywe ervaar en mag ons die mense wees wat dit in die wêreld daar buite gaan uitleef, sodat die wêreld weer goed kan wees.

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Wat veroorsaak dat daar ’n spieël tussen jou en God staan?
Wat moet jy doen om die spieël weg te kry?
Hoe groot is jou God?

Gebed

Vader, U is die Almagtige. Geen probleem is te groot vir U om te oorkom nie. Ek het U nodig in my lewe. Ek is nou moeg daarvan om net myself te sien. Wys Uself aan my, sodat ek U grootheid en goedheid aan my lyf kan ervaar. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek