God se Woord in vandag se woorde

Haal uit die paddas in die pyp


Dis nie lekker wanneer ons op ons verkeerde dade gewys word nie. Tog weet ons dat God nie wil hê dat ons die verkeerde dinge moet doen nie. God wil hê dat ons presies moet weet wat Hom nie aanstaan nie. Wanneer ons dit weet, is dit ons verantwoordelikheid om daarvan ontslae te raak. Wanneer sonde so pertinent in die Bybel genoem word, is ek geneig om baie vinnig daaroor te lees. Ek is seker bang dat as ek dit stadig en indringend lees, ek dalk sal sien dat een of meer van hulle op my van toepassing is.

Wel, ’n paar is! 19’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. 20Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. 21Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge.

Sjoe, dit is darem baie erg en jy kan dalk met die eerste lees hiervan dink dis nie oor jou waarvan hier gepraat word nie, maar as jy dit weer gaan lees, begin daar dalk een of twee uitstaan en ’n mens raak onrustig. Een van die redes hoekom ’n mens nie sommer dadelik die sondes in ons lewens raaksien in die teks nie, is omdat ons dit in sulke mooi pakkies toedraai dat ons nie meer weet dat dit eintlik verkeerd is nie. Watter van die volgende het al jou pad gekruis? ·       

  • Seksuele sondes: Pornografie op die rekenaar. Naaktonele in ’n fliek op die TV. Wat maak dit met jou kop?
  • Afgodery: Geld, roem, klere, karre, mense
  • Haat en twis: Liefde drup nie altyd vanself uit ons lewe nie. Dit gaan meestal meer oor my as oor die ander.
  • Aggressief, selfsugtig, stryery, nie eensgesind
  • Jaloers
  • Dalk een wyntjie te veel gevat?

Ons dop die toets! God wil dit nie so hê nie, daarom die harde woorde. Moenie te vinnig hieroor lees nie. Pasop! 21… Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Miskien moet ons begin erns maak met God se woorde en luister as Hy met ons praat. God praat hier met jou en my: Los julle verkeerde dade! Moenie toelaat dat die sonde julle beswadder nie.

Dit ontneem jou van ’n klomp seën en God haat dit. Die Heilige Gees kan nie saam met so ’n klomp modder in een liggaam woon nie. Haal dit uit! Stop daarmee! Ons weet God is getrou en regverdig om ons sondes te vergeef, maar miskien moet jy eers op jou knieë val en dit teenoor God bely.

Dit moet egter meer wees as net vra vir vergifnis. Werk ook ’n plan uit oor hoe jy dit in die toekoms kan vermy. Stel ’n aksieplan saam sodat jy kan sorg dat dit nie weer gebeur nie.

Teks

Galasiërs 5:13-26

Om oor na te dink

Watter paddas spring elke keer in jou lewe op as jy die goed hoor?

Wat moet jy daarmee doen?

Hoe de dinges gaan jy dit regkry?

Gebed

Here, help my om nie onkundig te staan teenoor die dinge wat verkeerd is in my lewe nie. Help my om die donker kolle met U lig te vervang. Ek wil hê U Heilige Gees moet my gedrag bepaal. Help my om gehoorsaam te wees. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek