God se Woord in vandag se woorde

Herskrywer van kontrakte


So nou en dan is ek bevoorreg om jong verliefde paartjies te trou. Ons stap voor die tyd ’n pad met hulle en dit is wonderlik om te sien hoe hulle deur die proses groei en deur die verliefdheid die werklikheid raaksien.

Een van die punte waarby ons stilstaan, is die huwelikskontrak. Die wet vereis dat ’n daar ’n kontrak opgestel moet word en dan verstaan die tweetjies dit gewoonlik nie. Hoekom moet daar dan ’n kontrak wees, wil hulle almal weet. Dit is vir daardie dag as julle besluit om nie meer bymekaar te wees nie.

Uit een mond sê hulle gewoonlik: “Dit sal nooit met ons gebeur nie”. Dit is jammer dat die realiteit daar buite vir hulle ’n minder as 50 persent kans gee om nie die kontrak eendag nader te sleep nie.

’n Kontrak is vir die dag as die partye steeks is en iets anders, ’n dokument, moet nou besluit wat gaan gebeur en hoe die pad vanaf hierdie verbreekte verhouding moet vorentoe loop.

Die meeste kontrakte is gewoonlik ook so bymekaargesit dat jy, wat die een is wat inkoop, altyd moet hoes en betaal. Dit help nie eers om die kontrak te lees wat jy teken as jy ’n selfoonkontrak aangaan of ’n kar koop nie. Behalwe dat dit in ’n onverstaanbare taal geskryf is, bevoordeel dit die ander en moet jy maar betaal.

Tussen ons en God is daar ook ’n kontrak. Die eerste een het God met die volk gesluit toe Hy die tien gebooie op die kliptafels vir hulle gegee het. Dit was ’n duidelike lys van moets en moenies en natuurlik ook wat met jou gaan gebeur as jy skuldig is aan kontrakbreuk. En ja, die mens was eintlik aan die verloorkant en moes hoes en betaal met sy lewe.

Jesus het hierdie kontrak gelukkig heeltemal kom oorskryf. Kyk hoe mooi word die kontrak hier beskryf: 15Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms.

Hierdie kontrak is ook eensydig opgestel, maar hierdie keer is dit nie die groot firmas wat bevoordeel word nie, maar die kliënt, ons! Ons wen al die pad. Jesus, wat die kontrak opgestel het, het dit met Sy eie bloed geskryf. Hy het selfs daarvoor betaal. Hy het met Sy lewe betaal.

Die nuwe kontrak is soveel anders as die vorige een. Daar waar die mens met die vorige een hard moes werk, baie bloed op altare moes laat vloei en nog steeds die kans gestaan het om te verloor, bring Jesus se nuwe kontrak vir ons vryheid en lewe en vrede.

Wat kan ’n mens hierop sê?

Jesus is ’n wonderlike herskrywer van kontrakte. Dis ’n bewys van ware liefde.

Teks
Hebreërs 9:15-22

Om oor na te dink
Wat maak die nuwe kontrak aan jou?
Hoe verander dit jou manier van lewe?
Hoe wil jy as gevolg hiervan verander?

Gebed
Onse Vader, baie dankie vir die nuwe ooreenkoms! Ek is so dankbaar ek leef onder hierdie kontrak, want ek weet nie of ek dit met die vorige een sou maak nie. Help my om my deel van die ooreenkoms na te kom en ’n verskil te maak orals waar ek gaan. In Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek