God se Woord in vandag se woorde

Sommer net ’n briefie van my


Hierdie is die laaste Kruispad vir die jaar en sommer net ’n briefie van my.

Ek is moeg, vrek moeg. Ek vermoed jy ook.

2020 was ’n jaar wat niemand verwag het nie. Ek onthou nog hoe opgewonde ek was oor die nuwe dekade. Kruispad word 10 jaar oud en ek en Renata is 8 jaar voltyds in die bediening. 2020 gaan ’n grote wees en aan die einde van die jaar met die uitgee van Hou aan loop, gaan ons ’n vet party gooi.

Dit het toe nooit gebeur nie.

Tog was die jaar vir ons goed. Mense het swaargekry en baie het by ons virtuele deur aangeklop. Dis ’n voorreg om in ander mense se lewens genooi te word en saam planne te maak om te kyk hoe ons saam deur die groot uitdagings kan kom. Dankie vir elkeen wat ons toegelaat het om te help.

Die nuwe baba in die kruispad stal, KruispadTV, het baie energie getap en ons lekker laat bontstaan. Ek wou nooit aanlyn preek nie, want ek het geweet hoeveel energie daarin gaan. Ek het altyd ’n verskoning gehad dat dit nie my roeping is nie – ek het eintlik ’n radio gesig! 😊 Maar nadat 6 mense in die eerste week van grendeltyd vir ons vra om aanlyn te preek, het ons besef dat die Here ’n ander plan het.

Ons het vêr gekom met die nuwe platform. Die Here baie goeie toerusting voorsien en vir my en Renata gehelp met die preek maak en die kreatiwiteit laat vloei. Ons preek Sondag die 47ste keer agtereenvolgens en as dit die Here se wil is, gaan ons daarmee voort. Gaan gerus na kruispad.tv of KruispadTV op YouTube indien jy ons nog nie daar gesien het nie. Op Kersdag sal ons om 9:00 ook ’n boodskap bring.

My nuutste boek, Hou aan loop, het eers 3 weke terug opgedaag en toe bak doeana ons ’n poets en hou dit ’n week langer op die kaai. Ek sou nie die boek uitgegee het nie, omdat ek geweet het dis ’n anderste jaar. Die kruispad gebruikers het egter hulle hand opgesteek en gesê hulle sal boeke koop. Nog net 40% van die beloftes het in bestellings gerealiseer, maar ek vertrou dat die res in die nuwe jaar hul boeke sal bestel. Indien jy ook boeke wil bestel, gaan gerus na Kruispadboeke.com of stuur ‘n e-pos na boeke@kruispad.com (Ons spesiale aanbieding is tans: Geen posgeld op 3 boeke of meer en ’n betalingsvakansie tot Februarie 2021.) As die jaar jou finansies in die wiele gery het en veroorsaak het dat jy nie jou boek kon bestel nie, laat weet ons, dan stuur ons met liefde vir jou ’n gratis kopie.

Ek wil uit my hart vir elkeen wat ’n mooi woordjie deur die jaar gestuur het, bygedra het of sommer net hier ingepop het, dankie sê. Soms was daar tye wat ek teen die planke was, veral toe ek COVID gehad het. Ek verstaan dat navorsing aandui dat een uit elke vyf mense as gevolg daarvan psigies swaar trek.

Te midde van als, is ons diep dankbaar dat God steeds met krom stokke soos ons reguit houe slaan. Daarom al die eer aan Hom.

Dankie dat ons drie keer per week by jou kon inloer. (Ja, ek weet ’n mens lees nie altyd alles nie – daarvoor is die lewe net te gejaagd.)

Dis vir my en Renata en die res van die Kruispadspan ’n groot voorreg om God se Woord in vandag se woorde te bring.

Ek bid vir jou ’n goeie rus toe. Ek bid dat God jou sal aanraak en dat jy spesiale momente saam met Hom sal ervaar. Ek bid vir jou liefde van geliefdes. Ek bid dat God deur Sy Gees jou hand sal neem in 2021 en vir jou hope wysheid sal gee. Ek bid dat Jesus Sy arms om jou sal vou en jou diepste hartsbegeertes een vir een sal aandra. Ek bid dat Hy saggies vrede sal indra in jou hart en in die mense om jou en ek bid dat Hy Sy genade oor jou sal laat reën – dat dit sommer in strale sal afloop en deur jou op ander om jou sal val.

Groetnis, tot volgende jaar en onthou: druk hom in die rooi en maak mooi.

Gerjo Ben en Renata

Ns. Soos jy seker al agtergekom het, sukkel ons steeds met ons e-pos stuurstelsel. Volgende jaar gaan ons gebruik maak van ’n betaalde stelsel en hulle belowe dit gaan werk. Kom ons vertrou en bid so!

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek