God se Woord in vandag se woorde

Hoe om te maak met die “slim” mense


My vrou en dogter het die voorreg om deur Israel te toer. Hulle vertel van die ortodokse Jode wat met hulle swart klere daar rondloop. Hulle draai in ‘n stegie af en sien hoe die mans in hul swart klere met mekaar redekawel. Presies nog soos in Jesus se tyd.

En dit is al wat hulle deur die dag doen. Hulle werk nie. Die vrouens moet die pot aan die kook hou en vir die res betaal die staat hulle ’n toelaag. En die ergste van alles is dat hulle nie vir Jesus as hulle Verlosser herken nie.

Paulus gee ’n lang relaas oor hoe ons moet optree teen soortgelyke mense:

10Daar is baie mense wat in opstand is teen die gesag van die Here. Dis veral diegene wat vroeër aan die Joodse geloof behoort het wat nou die grootste klomp kaf praat. Boonop beïnvloed hulle baie ander mense om dit te glo.

11Julle moet hulle so gou moontlik stilmaak en hulle leuens stopsit, want hulle keer omtrent al wat huis is met hulle vals praatjies om. Hulle doen dit om onskuldige mense se geld in die hande te kry.

12Hierdie spul se skelmstreke laat my dink aan wat een van hulle eie profete gesê het: “Die klomp wat op Kreta bly, is heeltemal onbetroubaar. Hulle is so onbeheerbaar soos wilde diere. Hulle is ’n klomp luiaards wat niks wil doen nie en hulleself heeltyd ooreet.”

13Hoe reg was hy nie! Daardie mense wat die goeie nuus verdraai, moet jy asseblief vasvat. Sê hard en duidelik vir hulle dat hulle op die verkeerde pad is. Dalk maak dit hulle oë oop sodat hulle reg in God kan begin glo.

14Hulle moet al daardie Joodse bygelowe en storietjies van hulle laat staan. Hulle hou hulle nog altyd besig met mensgemaakte reëls en wette wat glad nie die waarheid is nie.

15As die Here ’n mens vrygemaak het, hoef jy nie meer al die wette en reëls van daardie mense te gehoorsaam nie. Hierdie mense en ander ongelowiges is die gevangenes van hulle selfgemaakte “godsdiens”. Hulle kom dit nie eens agter nie, want hulle gedagtes is in die mag van die sonde. Hulle sondige geaardheid maak dat hulle verkeerd dink.

16Hulle maak asof hulle God ken, maar hulle lieg. Want wat hulle doen, sê iets heeltemal anders. Hulle vang die verskriklikste dinge aan. Hulle luister glad nie na wat God sê nie. Hierdie mense doen nie ’n enkele ding wat sy hart bly maak nie.

Ek het ook nou al deur die jare geleer om nie die ouens aan te vat nie, want hulle weet mos altyd die beste en sal alles probeer om jou ’n mielie te rol. Hulle wil nie luister na jou nie en probeer net hulle denke op jou afdruk. Baie keer stap ’n mens meer deurmekaar daar weg.

Soms kan die mense jou bang maak, want met vrees probeer hulle jou oortuig. Dis sulke tyd wat die liedjie van JD en Melissa Helser oor en oor in my kop speel:

I’m no longer a slave to fear
I am a child of God
I’m no longer a slave to fear
I am a child of God

From my mother’s womb
You have chosen me.
Love has called my name
I’ve been born again, into a family
Your blood flows through my veins

I’m no longer a slave to fear
I am a child of God

Ek hoef nie bang te wees vir die “slim” mense nie, want dit gaan nie oor woorde nie, maar oor Jesus wat my Saligmaker is.

Teks
Tit 1:10-16

Om oor na te dink
Is daar mense wat jou bang maak met hulle woorde?
Glo jy dat Jesus se redding vir jou genoeg is?
Hoe kan jy dit gaan uitleef?

Gebed
Here, mense glo soveel verskillende dinge dat dit my bang en deurmekaar maak. Ek wil nie mense se teorieë volg nie, maar U persoonlik ken en volg. Help my om gehoorsaam te wees aan wat U vir my sê. Dankie Jesus, dat U redding vir my genoeg is. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek