God se Woord in vandag se woorde

Honde wat voor en agter loop


Ek is ’n prentjie-mens en sien teksverse soos filmpies voor my afspeel. Hoe lyk jou prentjie van die volgende vers? 24Party mense sondig so openlik dat hulle sondes hulle vooruitloop na die oordeel toe. By ander kom die sondes eers later aan die lig. (1983-vertaling)

Die prentjie wat ek sien is in die eerste geval ’n man wat met ’n hond loop. Die hond rem baie sterk aan die leiband sodat die man eintlik op ’n galop getrek word. Die hond is die sonde wat die man gedoen het. Almal kan dit sien. Hy gee nie eintlik om dat almal dit sien nie.

Dis seker dié mense wat nie ’n saak met God het nie en ook nie skaam is oor wat hulle alles aanvang nie. Hulle gee nie om dat hulle honde of liewers hulle sondes voor hulle uitloop op pad na die oordeel nie.

Die tweede prentjie kom egter bietjie nader, dalk té naby vir sommige van ons. Kom ons kyk eers hoe staan die teks in die Boodskap-vertaling. Dit maak die prentjie bietjie meer sigbaar: 24In die gemeente werk dit so: party mense doen sommer oop en bloot dinge waarvan God nie hou nie. Almal weet daarvan nog voor die saak behoorlik ondersoek is. Ander doen dit weer stilletjies en in die geheim. ’n Mens hoor eers later daarvan as dit ondersoek word.

’n Vriend van my het ’n hond by die Dierebeskermingsvereniging gekry. Dis nogal ’n mooi hond, maar die hond het êrens ’n knou weg. As die hond jou sien, kies hy by voorbaat die hasepad. Eers baie later kom hy weer stert tussen die bene teruggesluip. Dis so asof hy iets verkeerd gedoen het en nou uitgevang is. Dit lyk of hy skuldig voel oor iets, maar hy weet self nie waaroor nie.

Kroekies braai uit, is ’n sêding van die van der Merwes wat seker van ons kinderdae se Cowboys en Crooks vandaan kom. Die crooks was mos altyd die slegte ouens wat die verkeerde dinge gedoen het. Ons het as kinders geleer dat die verkeerde dinge wat ons doen altyd een of ander tyd aan die lig gaan kom, aldus kroekies braai uit.

Dis nou waar die tweede hond in die prentjie kom. Sy kroekies het uitgebraai of aan die lig gekom. Almal het gedink die ou is so ’n goeie voorbeeld en doen alles so mooi. Maar toe daar ’n bietjie dieper gedelf word, kom die perd se ware kleure na vore.

Ek het al die storie vertel van die wit en die bruin hond in ons lewe. Die wit hond verteenwoordig die goeie en die bruin hond die sonde. Die hond wat in jou lewe die hardste blaf, is die een vir wie jy die meeste kos gee.

Die vraag is vandag sommer so in jou gesig: Vir watter hond gee jy die meeste kos?

Ja, ons almal maak foute. Soms gly die clutch en dan doen of sê ons dinge wat die verkeerde hond kos gee. En ja, ons weet dat Jesus vir hierdie verkeerde dade ook gesterf het, maar kom ons maak ’n punt daarvan om nie in die strik te trap en verkeerde goed te doen nie. Ons almal weet waar die regte pad is. Kom ons bly daarop en sorg dat ons op dié manier binne die wil van God leef.

Teks
1 Timoteus 5:23-25

Om oor na te dink
Hoe lyk jou honde?
Hoe moet jy anders leef?
Waarvan moet jy ontslae raak?

Gebed
Vader, ek weet daar is dinge in my lewe wat ek moet los. Ek weet daar is dinge waarvan U nie hou nie. Gee my krag en wysheid om daardeur te beur en meer en meer binne U wil te leef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek