Hoop bring na bo, maar twyfel laat sink
Van kleins af het ek gesukkel by die see. My ma het vertel dat ek as baba vir die sand gegril het. As sy my wou neersit, het ek dadelik aan die huil gegaan en my voete opgekrul.
My pa het altyd gesê die see laat hom taai voel en het eintlik net naby die see gekom om die res van die kroos te laat swem. Ek het maar in die kombi gebly en net vir die res geloer.
Dit was eers toe ek my eie gesin gekry het en ons in die Suid-Kaap vakansie begin hou, wat ek in die water gekom het. Seker omdat die temperatuur ook so effe hoër was.
Toe besef ek my verborge talent en begin bodysurf. Dis seker ’n snaakse prentjie van die strand af hoe die lyf so deur die branders gerol word, maar ek het nie omgegee nie, want vir my was dit lekker.
Vir ure sou ek die branders ry, totdat my gô uit is en my mond so sout, dat ek eers na die strand strompel om die sout met ’n bittertjie uit te spoel, om net weer die branders aan te durf.
En wanneer ek so op my rug lê en wag vir die volgende stel branders, raak ek in vervoering oor die branders wat net nie ophou nie. Meedoënloos, dag na dag, jaar na jaar, maak die wind op die see golwe bymekaar wat in branders kom uitspoel op die sand.
Jakobus gebruik die golwe as ’n voorbeeld wanneer ons bid. Hy sê: 6… Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen en weer. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg.
Golwe spoel dag na dag, jaar na jaar en bly op die ou end net daar. As ’n mens twyfel, spoel geloof weg en ons bly eintlik maar net op dieselfde plek. ’n Bietjie vorentoe en dan weer ’n bietjie terug, maar niks gebeur eintlik nie.
Die branders het geen stabiliteit nie. Deur die geringste windjie word dit in ’n rigting ingestoot. Net so word iemand wat twyfel of nie ’n vaste vertroue in God het nie, deur enige iets anders op die horison aangetrek en aangevuur. Heel waarskynlik in die verkeerde rigting. Elke gevoel of gedagte wat binne-in hulle wakker word, raak die basis van hulle gedrag, met die netto-effek dat dit die een oomblik bo is en die volgende oomblik heel onder.
Die een oomblik dryf hoop en geloof ’n persoon wat twyfel na God toe, maar wanneer onsekerheid by die voordeur opdaag, is die siel onrustig, net so onrustig soos roering van die branders van die oseaan en dobber die persoon rigtingloos rond. Hoop bring na bo, maar twyfel laat sink.
Laat ons daarom nie soos branders wees nie, maar met alles in ons bly glo en hoop dat God vir ons sal voorsien. Onthou, vra en God sal gee, of beter gestel, vra, vertrou, want God sal gee.
Teks
Jakobus 1:1-8
Om oor na te dink
Glo jy alles is moontlik?
Twyfel jy soms?
Hoe moet jy die brander mis?
Gebed
Here, ek moet bieg dat ek soms twyfel. My lewe lyk al te gereeld soos branders. Ek wil so graag U met alles vertrou en glo dat U vir my sal voorsien. Help my tog daarmee. In Jesus se Naam. Amen.