God se Woord in vandag se woorde

Hoop in ’n hopelose tyd


Daar is maar altyd een of ander krisis wat by ’n mens se voordeur lê en wag. Die lewe daar buite is nie maklik nie. Soms druk die spanning ’n mens so dat jou oë traan. En ek moet bieg – die regeerders van die land dra nie eintlik by tot ’n rooskleurige toekomsprentjie nie.

Al hierdie dinge maak ’n mens vreeslik negatief en ek vang myself soms die vraag vra of daar nog ’n roos of twee in die toekoms vir ons oor sal wees. Wanneer ons vrae in die rigting begin vra, is dit ’n aanduiding dat ons hoop begin opdroog. Die omstandighede waarin ons ons bevind, begin ons verblind en steel ons hoop. Die gevolg is ’n hop-e-lose situasie.

Paulus gee ’n bietjie raad vir ons: 23Julle moet vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. (1983-vertaling)

Ons hoop is wispelturig, want ons hoop op verkeerde goeters. Ons hoop op die leiers van die land wat die korrupsie gaan uitsorteer en as ons weer sien, is dit juis hulle wat hulle vuil hande in die koffers van die land druk. Woeps! en hoop is weer by die deur uit en ons kruip tussen die vloer en die politoer rond. Ons sit ons hoop op ons eggenoot. Ons sit ons hoop op ons vriende en werkgewer. Ons sit ons hoop op ons salaristjek en ’n verhoging. En êrens in die pad af stel iemand ons weer teleur en woeps! daar vlieg die hoop weer by die deur uit.

Wil jy hê dit moet beter gaan met jou? Wil jy dit regkry om steeds jou kop bo water te hou selfs al is jy in ’n krisis? Dan moet jy jouself anker aan dit wat altyd stewig staan en jou nooit teleur sal stel nie – die evangelie. Die verlossende evangelie van Jesus.

Wat beteken dit nou vir my in die praktyk? Ek vermoed Anna se storie is vir ons elkeen ’n les in hoe om vas te hou aan die evangelie en nie toe te laat dat ons hoop gesteel word nie.

Ek dink aan my eie lewe, my “verhaal”. Ons verstaan nie altyd hoekom ons in die “put van die hel” moet wees nie, daar waar jy soms letterlik uitroep: “My God, waarom het U my verlaat?”

Nogtans klou jy met groot genade aan God se Woord vas. Ek het ook letterlik my Bybel vasgehou soos ek iemand sal vashou, tye waar ek geen woorde gehad het nie, verslae was, waar my “boeties en sussie” in Jesus my situasie geoordeel het.

Jy verstaan niks, te moedeloos, te seer, teleurgestel…

En dan kom die Heilige Gees en herinner jou aan ons Verlosser Jesus Christus aan die kruis wat ook ’n pad moes loop vir elkeen van ons wat dieselfde woorde uitgeroep het: “My God, waarom het U my verlaat?”

En in jou eie geroep en vrae vra waar jy voel jy kan nie meer, kom genade elke dag deur. Jy voel God ons Vader se krag en onvoorwaardelike liefde. Sy hoop breek deur. Hy is jou skuilplek wanneer dit soms voel dit is net jy, maar jy besef Hy is hier by jou, Hy verkwik, Hy is die begin van jou geloof en in genade kan ek vasklou aan God wat my nie verlaat nie en wat my krag gee, vrede gee om te kan, al maak niks sin nie…

Sy staan sterk in die geloof. Sy laat nie toe dat die omstandighede (hoe swaar ook al) waarin sy haar bevind, haar hopeloos laat nie. Nee, dit is juis die vasklou aan die hoop, die vashou aan die evangelie en beloftes van God wat haar laat voortbeur.

Dis presies wat ek en jy ook moet doen.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:21-23

Om oor na te dink

Hoe diep is jou moeilikheid?

Waar is jou geloof?

Hoeveel hoop het jy oor?

Gebed

Jesus, U gee vir ons hoop in tye wanneer ons geen hoop meer het nie. U is die hoop waaraan ons vashou wanneer dit nie goed gaan nie. Die hoop is ’n veilige en onbeweeglike lewensanker. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?