Hoop, sekerheid en ligte aanskakel
Saam met die skrywer van Hebreërs, besoek ons die groot name in die Ou Testament, sodat ons by hulle van geloof kan leer. Volgende in die ry, is Josef.
Josef is deur sy broers aan ’n slawehandelaar verkoop en dit was juis hierdie weggegooide broer wat hulle gered het, toe hongersnood hulle land getref het. Hulle het sak en pak by hom ingetrek en hulle het vir die res van hulle lewe lekker in Egipte gelewe.
Selfs toe Josef op sy sterfbed gelê het, het hy aan sy broers gedink: 22Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak.
Vir seker was daar ’n onsekerheid in Josef se broers oor wat met hulle en hul gesinne gaan gebeur as hy nie meer daar is nie. Maar Josef los hulle nie daar nie en bied vir hulle troos. Hy gee vir hulle hoop. Hy gee vir hulle die visie dat die volk eendag na die land van melk en heuning sal trek.
Vir Josef om hierdie visie te kon oordra, was een bestanddeel nodig: ’n sak vol geloof. Hy kon hulle slegs hiermee bemoedig en laat rustig word, omdat hy geweet het God kom Sy beloftes na en God sal aanhou om Sy beloftes na te kom.
Josef kan hoop gee vir die hopelose. Josef kan ’n lig aansteek vir sy broers wat donker tye sonder hom ingaan. Josef bied sekerheid vir sy broers wat woes onseker is. Hoekom? Want hy het hope van die grootste bestanddeel wat nodig is om ander te help: geloof. Hy glo in God, die waarmaker van beloftes.
Dit het ons die afgelope tyd gereeld gehoor. God kom Sy beloftes na. Hy doen soos wat Hy sê Hy gaan doen. In ons eie lewe het ons dit al ervaar. Elke maand sorg die Vader vir ons. Hoekom sal Hy dan nou volgende maand dit anders doen?
Daarom kan ons met 100% sekerheid glo dat ons aan die einde van volgende maand weer op ons knieë sal gaan en dankie sê dat Hy weereens vir ons voorsien het. Dit kan ons maar glo.
God roep ons elkeen op om soos Josef ander mense uit die modder van die lewe uit te trek. Ons moet hoop gee vir die hopelose. Ons moet die lig aanskakel vir die wat in die donkere wêreld vasgeval het. Ons moet sekerheid vir ander bied wat in onsekerheid rondploeter.
En ons kan dit doen, wanneer ons self in God glo. Dan kan ons ons ondervinding gebruik om ander te bemoedig. Josef het God in sy lewe ervaar. Daar in die put het God ’n uitkoms gebring. Daar in die vreemde land waar hy onskuldig in die tronk sit, het God vir Josef verhef tot net onder die koning. Elke keer as dit lyk asof die gevaar hom gaan oorrompel, het God Sy beloftes gehou en vir Josef gered. En dit is met die sak vol ervaringe van God, dat hy sy broers kon bemoedig.
Mag jy dit ook doen. Mag jy hoop en sekerheid gee en die lig vir ander aanskakel, omdat jy glo in ’n lewende God!
Teks
Hebreërs 11:20-31
Om oor na te dink
Glo jy?
Glo jy dat God Sy beloftes vandag nog waar maak?
Gee jou geloof vir ander moed?
Gebed
Ons Vader, hoe groot is U nie! En dan voel ek klein as ek ander moet hoop gee. Ek wil dit graag doen. Amen.